Skisofrenie

Skisofrenie. Dié begrip en konsep kom van ’n Switserse psigiater, Eugene Bleuter. Letterlik beteken dit “gespletenheid van die psige”. Dit verwys na ’n komplekse geheel van ingewikkelde versteurings in reaksiepatrone gedurende verskillende lewensfases. Skisofrenie beskryf ’n kortsluiting tussen rasionele insig en innerlike belewing sonder behoorlike integrasie. ’n Splitsing tussen assosiasie-skakels ontstaan, gedrag disintegreer, daar is brokstuk-ervarings in die ek-belewing. Botsende ervarings bly voortleef sonder realistiese aanwending van intellektuele vermoëns. Gebrekkige integrasie veroorsaak vervreemding/isolasie van die ware self, sosiale onttrekking en werklikheidsvreemdheid. Morbiditeit kom voor en persoonlike versorging en higiëne word verwaarloos. Daar is dikwels ’n pre-okkupasie met godsdienstige of lewensfilosofiese vrae. ’n Onvermoë tot direkte denke ontstaan sowel as hallusinasies en delusies. Bekende ervarings verkry ’n simboliese betekenis wat angs en isolasie verhoog. Negatiewe gedrag, apatie, inkonsekwentheid en regressie na ’n half “kinderlike” vlak en selfdoodgedrag ontwikkel.

Pastoraat: Bevorder ’n helende klimaat/atmosfeer van geborgenheid. Kritiek en vermaning/korreksieboodskappe verhoog die angsvlakke. Rasionele en analitiese gespreksterapie is moeilik en ’n kombinasie van prosedures, waar mense uit die verskillende professies saamwerk, is waarskynlik die beste. Die klem moet val op onvoorwaardelike liefde en aanvaarding sonder kritiek of verwerping.

Vir verdere lees: EW Anderson en HH Trethowan 1977. Psychiatry. Londen: Baillière Tindall. SA Grobler en DA Louw 1989. “Skisofrenie en delusionele (paranoïede) versteurings” in: DA Louw (red), SuidAfrikaanse handboek van abnormale gedrag. Johannesburg: Southern-Boekuitgewers.

 

Sidebar