SKOLASTIEK

SKOLASTIEK beteken die teologie* van die “skool”. Dit verwys na die verskuiwing in die 13de eeu van teologiebeoefening vanaf die kloosters* na universiteite. Skolastiese teologie was nie alleen skolasties in die institusionele lokalisering daarvan nie, maar sou voortaan veral gekenmerk word deur die begeerte om ’n wetenskap te wees. Dit het eerstens saamgehang met die herontdekking van Aristoteles se werk en saam daarmee Arabiese filosofiese en wetenskaplike tekste wat nuwe konsepte, denkinstrumente en prosedures aan die teologie verskaf het. Dit het tweedens verband gehou met die opbloei van logiese semantiek (logica modernorum) en die taalfilosofie, wat veroorsaak het dat teologiese kennis voortaan aan logiese diskussie onderwerp sou word. Dit was veral die 12de eeuse denker, Peter Lombard, wat met sy Sentences die werk van Aristoteles (en Abelardus*) deurgevoer en die grondslag vir die skolastiese teologie van die 13de en 14de eeu gelê het. Die groei van skolastiese teologie het derdens met nuwe pedagogiese ontwikkelings rondom 1150 aan Westerse universiteite saamgehang. Daar het ’n verskuiwing van lering (lectio) na bevraagtekening (quaestio) gekom, en op die gebied van literêre genres van die skryf van versamelwerke na die sg summa. Dié verskuiwings het meegebring dat kommentare op Lombard se Sentences geskryf is, wat ’n teologiese manier van dink geword het. Gou is kommentare op Lombard se werk vervang met kommentare op die Bybel*. Kommentare het aanleiding gegee tot die gedissiplineerde ordening (ordo disciplinae) van teologiese konklusies (summa) op grond van die Aristoteliaanse kriteria vir wetenskaplike kennis, nl om die onsigbare op grond van klaarblyklike beginsels te beredeneer. Hierin het Thomas van Aquino*, vader van die Katolieke* teologie, ’n groot rol gespeel.

 

Sidebar