SKOTSE PREDIKANTE

SKOTSE PREDIKANTE. Die tweede Britse besetting van die Kaap (1806) het meegebring dat ’n sterk Engelse teenwoordigheid onder meer weerspieël is in die Britse goewerneurs, hulle amptenary en taalvoorkeure. Dit het later alle fasette van die samelewing ingrypend beïnvloed.. ’n Doelbewuste verengelsingsproses het reeds teen 1812 onder leiding van lord Charles Somerset begin. Dit het momentum gekry met die aankoms en vestiging in 1820 van sowat 4 000 Britse setlaars* in die Oos-Kaap. Die Britse owerheid het toenemend daarop aangedring dat die plaaslike tekort aan predikante* vanweë die snelle gemeentelike uitbreidings, uit die Presbiteriaanse Kerk* eerder as uit Nederland aangevul word.

Op aandrang van Somerset, het dr G Thom*, wat in 1818 van die London Missionary Society* by die NG Kerk* aangesluit het, in 1820 vertrek om geskikte leraars te werf. Die eerste ses van hierdie pionier-predikante het hulle in 1822 uit Skotland in Suid-Afrika gevestig. Die NG Kerk het sodoende in 1837 reeds 16 Skotse predikante gehad, asook 6 Nederlanders, 2 Duitsers en 18 Suid-Afrikaans-gebore leraars. Dié statistiek het teen 1867 geklim tot meer as 25 Skotse predikante. Hoewel hulle Engelssprekend was, het die meeste van die Skotte relatief gou Hooghollands aangeleer – die NG Kerk se kanseltaal. Heelwat van hulle is ook met Hollandssprekende meisies getroud. Dit was in ’n tyd toe kerkliberalisme in Nederland so sterk was dat die Skotse Presbiteriaanse Calvinisme* gewoonlik vir die konserwatief-gesindes  verkieslik was.

Van die Skotse invloede in die NG Kerk het dikwels van indiwidue en families soos die Murray*-familie uitgegaan. Dit het later selfs neerslag gevind in dorpsname soos Murraysburg, Robertson, McGregor, Sutherland en Fraserburg. Of die angliseringsbeleid vanweë die invoer van Skotse leraars geslaag het, is te betwyfel – dit het in werklikheid grootliks geboemerang. Daar was wel Engelse eredienste* in gemeentes* van die Kaapse Kerk* gedurende die tweede helfte van die 19de eeu, veral in gemeentes van die Kaapse Kerk. Dié neiging kan egter nie noodwendig aan die Skotse predikante se invloed toegeskryf word nie.

Vir verdere lees: TN Hanekom 1952: “Skotse leraars in die Kaapse Kerk” in Die Voorligter, April 1952. George Hofmeyr (hoofred) 2002. NG Kerk 350: Een honderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652–2002. Wellington: Lux Verbi.BM.

 

Sidebar