SKRIFBESKOUING (1)

SKRIFBESKOUING (1). Hoe iemand oor die Bybel* dink, bepaal uiteindelik sy lewens- en wêreldbeskouing. Gereformeerdes* aanvaar meestal dat die Skrif* tot stand gekom het deurdat die Here* mense uit verskillende vroeë tye – met al hulle begaafdhede en beperkings – gelei het om sy boodskap vir hulle eie en later tye te boek te stel (die sg organiese inspirasieleer*). Hoe die Here dit deur sy Gees* gedoen het, en in watter mate die Bybelskrywers almal bewus was van waarmee hulle besig is, weet ons nie. In ’n Skrifbeskouing is gesonde ewewig noodsaaklik om enersyds die slaggate van biblisisme* of fundamentalisme* te vermy, en andersyds die gevaar van rasionalisme* wat uiteindelik alles aan sekularisme* prysgee.

In Protestantse* kringe is die afgelope dekades baie oor Skrifbeskouing nagedink. In die bekende verslag God met ons van die Gereformeerde Kerken in Nederland wat in 1980 voor die Sinode van Delft gedien het, is probeer om ’n nuwe gesig aan die organiese inspirasie te gee. Die Goddelike karakter van die boodskap van die Bybel word nie ontken nie, maar dit word beklemtoon dat hierdie boodskap ingebed is in ’n menslik-feilbare en kultuur-bepaalde boek, en dat die waarheid daarvan net so afhanklik is van die leser in sy situasie as van die skrywer in syne. Daarom is die waarheid volgens God met ons nóg objektief nóg subjektief, maar relasioneel: dit staan in ’n bepaalde relasie tot die skrywer én die leser daarvan.

Meer radikaal is die benadering van die Duitse teoloog Rudolf Bultmann*, wat bekendheid verwerf het met sy metode van ontmitologisering* (Entmythologisierung) van die Nuwe Testament*. Sy siening was dat daar ’n kern van die waarheid oor die verlossing in Jesus* bestaan. Dit is egter opgesluit in die Vroeë Kerk* se teologie (gemeente-teologie) en mitologie*, soos ons dit in die Nuwe Testament* vind. Daar is net een manier waarop ’n mens tot die essensie van die waarheid kan deurdring, en dit is deur ’n interpretasie van hierdie raamwerk (hy noem dit ook verpakkingsmateriaal) wat deur mense daargestel is.

’n Soortgelyke benadering kom na vore by die Nederlandse teoloog Harry Kuitert*. Sy siening is dat die Bybel net wil sê hoe Israel* oor God gedink het en wat die skrywers van die Nuwe Testament oor Jesus gedink het.

Na die mate dat hierdie beskouings die menslike faktor in die totstandkoming van die Bybel óór- en die Goddelike faktor ónderbeklemtoon (of selfs nagenoeg uitskakel), kom dit in ernstige spanning met die “ewewig” waarvoor hierbo gevra is. ’n Miskenning van die een of die ander, en ’n onderbeklemtoning van die een of die ander, versteur die ewewig.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis* verklaar dat ons glo wat in die Skrif vervat is omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat dit van God is. Ons kan God se betrokkenheid nie bewys nie, maar Hy self stel ons in staat om dit te glo. Die Heilige Gees lei gelowiges in elke tyd hoe om die Bybel te verstaan. Dit impliseer dat dit nie in elke tyd presies soos in elke ander tyd verstaan sal word nie. Uiteraard kan die bevindings van bv die Bybelwetenskap oor die ontstaan van die Bybel, ook hierin ’n rol speel. Die Heilige Gees kan gelowiges lei om die Bybel in hulle tyd nuut en anders as voorheen te verstaan, wat nie daaraan afdoen dat dit steeds Woord van God was en is nie.

 

Sidebar