SKRIFGEBRUIK IN DIE ETIEK

SKRIFGEBRUIK IN DIE ETIEK het te doen met die benutting van die Skrif* om ’n oordeel te gee oor watter optrede moreel* is, of om ’n bepaalde optrede as moreel te regverdig. Dit kom voor by alle Christelike kerke, aangesien die Skrif* in die Christelike geloof* ’n grondliggende rol speel. Nie alle kerke glo egter dat Christene vir kennis oor God se morele wil uitsluitlik op die Skrif aangewys is nie. Die Katolieke Kerk*, bv, aanvaar dat kennis van God se morele wil tot op sekere hoogte deur die rede uit die natuurwet geken kan word. Die Protestantse* kerke bely egter dat betroubare kennis van God se morele wil alleen met behulp van die Skrif verkry kan word.

Reeds die Kerkhervormers* het besef dat ’n direkte beroep op spesifieke Bybelse riglyne nie altyd geregverdig is nie. In die Ou Testament* is daar bv talryke voorskrifte wat met die offerande* saamhang, of afgestem is op die spesifieke omstandighede wat destyds in Israel* gegeld het, wat vandag nie meer toepaslik is nie (die renteverbod in Deut 23:19 is ’n voorbeeld). Vandag word ons gekonfronteer met talle nuwe morele probleme as gevolg van tegnologiese ontwikkelings (bv die gebruik van kernenergie en menslike kloning*) waaroor die Skrif geen spesifieke riglyn bied nie. Die vraag is dus nie net hoe ons kan onderskei watter van die Bybelse riglyne vandag nog net so vir ons geld nie, maar ook hoe ons met behulp van die Bybel* morele riglyne oor eietydse kwessies kan formuleer.

Die Kerkhervormers het reeds voorgestel dat onderskei word tussen seremoniële, burgerlike en morele wette. Die seremoniële wette wat met die godsdienstige kultus, en die burgerlike wette wat met die spesifieke samelewingsomstandighede in Ou Israel saamhang, geld nie meer sedert die nuwe bedeling in Christus* nie, terwyl die morele wette nog steeds geld. Die probleem is nou egter: hoe besluit ons watter riglyne as moreel geklassifiseer moet word, en watter as burgerlik? Die gevaar bestaan dat ons dié keuse uitoefen op grond van ons eie hedendaagse oortuigings oor wat moreel aanvaarbare gedrag is. Die enigste oplossing is om – op voetspoor van die Kerkhervormers – dié keuse uit te oefen op grond van die sentrale morele boodskap van die Bybel. Tot hierdie sentrale morele boodskap behoort onder andere die Tien Gebooie*, geregtigheid* en die liefdesgebod*. Op grond van hierdie sentrale morele boodskap van die Skrif, kan besluit word watter spesifieke Bybelse riglyne nog geld, en kan aan die hand daarvan ook nuwe morele riglyne oor eietydse kwessies geformuleer word.

(Kyk ook by: Bybel; Bybel: Mondelinge oordrag en teboekstelling; Bybelse norme; Heilige Skrif; Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgesag; Skrifuitleg; Teksuitleg; Teopneustie; Woord van God.)

Vir verdere lees: BC Birch en LL Rasmussen 1989. Bible and Ethics in the Christian Life. Minneapolis: Augsburg.

 

Sidebar