SKRIFGELEERDES

SKRIFGELEERDES is ’n term vir verskillende groepe in Bybelse* tye: sekretarisse (Hebreeus* soferim, Grieks* grammateis), kenners van Moses* se wet* (Grieks nomodidaskaloi). In antieke tye speel sekretarisse ’n belangrike rol as optekenaars van wette, geskiedenis, koninklike raadgewers, astroloë, ens. In die Ou Testament* lees ons van sekretarisse wat as boekhouers en registerhouers optree (2 Kon 12:10) en hulleself in gildes georganiseer het (1 Kron 2:55). Met die begin van die ballingskap* bly skrifgeleerdes nie bloot optekenaars nie: Barug* werk as Jeremia* se sekretaris, maar ook as sy verteenwoordiger. In die ballingskap lê skrifgeleerdes nie net wette uit nie, maar interpreteer dit. Ná die ballingskap is Esra* sekretaris en grondlegger vir ’n nuwe samelewing. In dié tyd is skrifgeleerdes ook versamelaars van wysheidspreuke (bv Ben-Sirag*, 180 vC).

In Jesus* se tyd tree skrifgeleerdes op as uitleggers van die wet en arbiters in geskille, dus soos die later rabbi’s*, sonder dat dié titel gebruik is. Hillel* en Sjammai* is twee skrifgeleerdes met twee skole van wetuitleg. Uitsprake oor uitleg en toepassing van die wet, word mondelings deur skrifgeleerdes en hulle leerlinge oorgelewer. Dit vorm die sg “mondelingse tora*” (Kyk by: Bybel, mondeling) wat later in die Misjna* neergeskryf is. Nou is skrifgeleerdes teoloë en bewaarders van die Joodse* tradisie. In die Nuwe Testament* word skrifgeleerdes en Fariseërs* dikwels saam genoem. Hoewel baie skrifgeleerdes Fariseërs was, is die terme nie sinoniem nie. Fariseërs verwys na ’n godsdienstige “party”, terwyl skrifgeleerdes na die professie verwys. Sommige skrifgeleerdes was Sadduseërs*.

Die beeld van skrifgeleerdes is nie presies dieselfde in die verskillende Evangelies* nie. In Markus* is hulle Jesus se opponente. Hulle bevraagteken sy gesag (2:6), vra waarom Hy met onrein hande eet (7:5), ens. In Matteus* speel skrifgeleerdes ’n groter rol. Hulle is negatief teenoor Jesus*, maar Matteus maak duidelik dat sommige van Jesus se kritici nie skrifgeleerdes was nie, maar wel Fariseërs. Waar Mark 3:22 suggereer dat die skrifgeleerdes Jesus as ’n duiwelbesetene beskuldig, sê Matt 12:24 net dat dit Fariseërs was. Matt 7:29 maak onderskeid tussen Fariseërs en ander skrifgeleerdes. Lukas* gebruik die term nomikoi (bv 7:30; 10:25) en nomodidaskaloi (5:17; Hand 5:34) – “wetgeleerdes”.

Daar was skerp verskille tussen Jesus en die skrifgeleerdes, in inhoud maar ook in styl. Skrifgeleerdes staan onder die wet, Jesus verhef Hom bo die wet; die skrifgeleerdes word deur hulle leerlinge gekies, Jesus kies sy eie leerlinge. Aan die ander kant tree Jesus (bv in die Bergrede*) op as skrifgeleerde wat die wet nuut uitlê en toepas.

Ná die val van Jerusalem* vestig die meeste skrifgeleerdes hulle rondom Jafne in Galilea*. Met die tempel*4 vernietig, gaan al die energie van Joodse* geestelikes op in die leer en uitleg van die wet. So word die grondslag vir die rabbynse Judaïsme* gelê.

Vir verdere lees: GH Twelftree 1992. “Scribes” in: JB Green (red), Dictionary of Jesus and the Gospels. Downers Grove: IVP.

 

Sidebar