SKRIFGESAG

SKRIFGESAG. Die gesag van die Bybel* is geheel en al afhanklik van sy oorsprong. God het daarvan sy Woord gemaak en daarom dra dit gesag (Kyk by: Outopistie). Die gesag van die Bybel kan nie bewys word nie, maar net in geloof* aanvaar word. Die Heilige Gees* wat in die eerste plek die Skrif* geïnspireer* het, oortuig die mens van sy gesag (Joh 14:23-26; 16:13).

Die gesag en die geloofwaardigheid van die Bybel gaan hand aan hand. Deur die loop van die eeue was daar steeds diegene wat probeer het om die inhoud van die Skrif as onwaar te bewys. Die Bybel se gesag kom egter nie in gedrang wanneer sekere dinge wat nie presies met mekaar rym, of op die oog af weersprekings is, aangetoon word nie. Ten opsigte van sy bedoeling is die Bybel gesaghebbend en betroubaar. Daarom verloor hy ook nooit sy aktualiteit nie; deur die eeue en vir alle geslagte staan dit vas.

Sommige sake in die Bybel staan sentraal tot die bedoeling daarvan, terwyl ander meer op die periferie lê. Daar is uiteraard ook progressie in die Skrif: van belofte in die Ou Testament* (bv dat die Messias* kom) tot vervulling in die Nuwe Testament* (Hy het gekom en kom weer). Die Ou-Testamentiese wette in Levitikus* of Deuteronomium* moet in die lig daarvan verstaan word en is uiteraard nie net soos dit daar staan op die Nuwe-Testamentiese Christen van toepassing nie.

(Kyk ook by: Bybel; Bybel: Mondelinge oordrag en teboekstelling; Bybelse norme; Heilige Skrif; Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgebruik in die etiek; Skrifuitleg; Teksuitleg; Teopneustie; Woord van God.)

 

Sidebar