SKRIFUITLEG

SKRIFUITLEG. Die kerke van die Kerkhervorming* beskou die Bybel* as die gesagvolle bron waarin God se Woord* – sy openbaring aan ons oor die evangelie* van Jesus* Christus*– gevind kan word. Ons geloof* is dus gegrond op die Skrif*. Daarom is Skrifuitleg ’n sentrale aktiwiteit in Protestantse* kerke. Daar word ook groot klem gelê op die duidelikheid van die Skrif – by name duidelikheid oor die bedoeling van die Skrif (Kyk by: Skrifbeskouing). Elke mens wat gelowig en biddend soek na die leiding van die Heilige Gees* in die verstaan van Skrif, kan daarin duidelikheid kry oor God se liefde* en verlossing.

Skrifuitleg as eksegese* is ’n gesofistikeerde teologiese wetenskap wat aan universiteite gedoseer word in die opleiding van bedienaars van die Woord. Die grondtale van die Bybel, Grieks* en Hebreeus*, moet geken word. Die eksegeet het sekere vooronderstellings soos sy/haar Skrifbeskouing, die kerklike tradisie waarin sy/hy werk en die konteks waarin hy/sy leef. Die konteks waarin die Skrif/teks destyds geskryf is, moet so goed as moontlik vasgestel word. Verskeie wetenskaplike metodes word vir die betekenisvasstelling van die teks gebruik. Die historiese metodes omvat verskillende tegnieke waarmee die ontstaansgeskiedenis van die teks nagegaan word. Die teksimmanente metode (struktuur-analise) ondersoek die teks in sy finale gestalte. Die literêre metode ondersoek die teks in die lig van sy literêre genre. Metafoor*teorie, retorika en literêre insigte is uiters belangrik om die besondere kommunikasie van die teks se boodskap te verstaan.

(Kyk ook by: Eksegese; Bybel; Bybel:Mondelinge oordrag en teboekstelling; Bybelse norme; Bybelvertalingsmetodes; Heilige Skrif; Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgebruik in die etiek; Skrifgesag; Teksuitleg; Teopneustie; Woord van God.)

 

Sidebar