SKRYFGOED, PAPIRI

SKRYFGOED, PAPIRI. In die Bybelse tyd is op verskillende soorte materiaal geskryf. Permanente inskripsies is met ’n beitel op klip gegraveer (Jos 8:32). Soms is klip voorberei om met ink daarop te skryf (Deut 27:2-3). Moses* bring plat klippe van die berg af (Eks 31:18). Kleitablette, tablette van hout (met was bedek) of ivoor is ook gebruik. In Jerusalem* is ’n silwer gebedsrol uit die tempel* gevind, en by Qumran* ’n koperrol. ’n Ysterpen met ’n harde punt (diamant*) is gebruik om op metaal te skryf (Jer 17:1). Later is boekrolle van leer en ook papirus gebruik. Leer is by voorkeur gebruik vir boekrolle van gewyde geskrifte, soos tora*-rolle. Swart ink is van roet gemaak, maar geel en rooi ink was ook bekend, en ’n rietpen is gebruik. Die skryfgoed is in ’n skrywersakkie gebêre (Jer 9:2-3).

Papirusplante groei in die vlak water van die Nylrivier*. Stroke van die papiruskern word plat neergesit met ander stroke dwars daarop en saamgedruk totdat dit ’n blad vorm. Jeremia* se koopkontrak in die tronk (Jer 32:11-14) was waarskynlik ’n papirusblad wat gevou, verseël en in ’n kleipot gestoor is. Ongeveer 20 papirusblaaie word saamgevoeg om ’n boekrol te vorm. Die Lukas*-Evangelie kon ’n boekrol van ongeveer 9 meter lank gewees het. In Egipte* is duisende papirus-dokumente (meervoud: papiri) in die droë klimaat goed bewaar. Sommige van ons oudste afskrifte van die Nuwe Testament* is op papirus geskryf en dateer vanaf ongeveer 200 nC.

Nuwe-Testamentiese* boeke was oorspronklik boekrolle. Dit was uiteraard moeilik om ’n spesifieke plek in die boekrol op te soek. Teen ongeveer die 2de eeu nC ontstaan die boekvorm (met bladsye) vir gebruik in die Christelike kerk*. Vanaf die 3de eeu nC word die meer duursame perkament (behandelde leer) die aanvaarde skryfmateriaal totdat die drukpers en papier in die 15de eeu alles verander het.

Vir verdere lees: Bybelgenootskap van Suid-Afrika “Grondteks van die Nuwe Testament”, “Grondteks van die Ou Testament” 1998. Verwysingsbybel 1983-vertaling: Band 2 Naslaanmateriaal. Kaapstad.

 

Sidebar