SKULDBELYDENIS

SKULDBELYDENIS. Die gedagte dat ’n mens skuld voor God vanweë sonde* bely, was nog altyd ’n wesenlike deel van die Christendom* se geloof*oortuigings. Dit vorm ook ’n belangrike onderdeel van die gereformeerde* blik op die lewe. Volgens Luther* is ons hele lewe boetedoening, omdat ons geheel en al skuldig staan voor God. Net so is God se verlossing geheel en al. Die moment van skuldbelydenis is ook belangrik vir die gereformeerde erediens*. Calvyn* het daaraan ’n vaste plek gegee, meestal in verband met die aanhoor van die wet van God, soos uitgedruk in die Tien Gebooie*. Alhoewel hierdie beklemtoning op die oog af ’n swaarmoedige karakter aan gereformeerde eredienste kan verskaf, was dit nooit die bedoeling nie. Die bedoeling is eerder dat die volle vreugde van die verlossing in Christus* ervaar moes word, maar dit is alleen moontlik teen die agtergrond van die werklikheid van ons sonde. Dit is belangrik om te verstaan dat skuldbelydenis nie ’n “goeie werk” is wat ons bydra tot ons verlossing nie, maar ’n gevolg is van God se genadige werk in ons. Skuldbelydenis is persoonlik van aard, maar ook kollektief: Christene bely ook sosiale en globale skuld voor God: vergeef ons ons oortredings … (Matt 6:12).

 

Sidebar