SKULDLAS VAN ARM LANDE

SKULDLAS VAN ARM LANDE. Daar is ’n aantal arm lande in die wêreld, waarvan verreweg die meeste in Afrika* is, wat dit bykans onmoontlik vind om uit die wurggreep van hulle buitelandse skuld te kom. In die 1990’s het die Wêreldbank vasgestel dat van die 54 lande wat as “lae inkomste”-lande geklassifiseer kan word, daar 34 lande is wat ’n ernstige skuldprobleem het. Hierdie lande skuld geld aan buitelandse banke, ander regerings, die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank.

Die groot skuldlas van hierdie arm lande het sy oorsprong in groot lenings wat in die 1960’s teen lae rentekoerse by Westerse banke aangegaan is. Met die styging in die brandstofprys in 1973 en veral in 1979–1980, het rentekoerse drasties gestyg. Terselfdertyd het die vraag na grondstowwe wat in ontwikkelingslande ontgin is, skerp afgeneem. Die kombinasie van hoë rentekoerse en laer inkomste deur uitvoere, het baie ontwikkelingslande daartoe gedwing om verdere lenings by onder andere die IMF en die Wêreldbank aan te gaan om hulle skuldverpligtings na te kom. Swak finansiële bestuur en korrupsie het ongetwyfeld in die geval van sommige lande daartoe bygedra dat die geld wat geleen is, nie optimaal aangewend is om ekonomiese ontwikkeling te stimuleer nie. Die strukturele aanpassingsprogramme wat deur die IMF en die Wêreldbank op die armste lande afgedwing is, het egter in baie gevalle ook ’n negatiewe uitwerking op ekonomiese ontwikkeling gehad.

Sedert die Bradyplan in 1989, was daar al heelwat voorstelle oor hoe die skuldlas van hierdie arm lande verlig kan word. In die loop van die 1990’s het daar ál meer stemme opgegaan dat hulle skuld in geheel of gedeeltelik afgeskryf moet word. Een van hierdie inisiatiewe was die Jubileumjaar 2000-beweging waarin kerke ’n leidinggewende rol gespeel het. Dat die ontwikkelde lande nou ook bereid is om sulke voorstelle ernstig op te neem, blyk uit die aanvaarding van die Millennium Ontwikkelingsdoelstellings deur die G8-lande in 2005.

Vir verdere lees: R van Drimmelen 1998. Faith in a Global Economy: A Primer for Christians. Genève: WCC Publications.

 

Sidebar