SLAAF VAN CHRISTUS

SLAAF VAN CHRISTUS. Ongeveer 85-90% van die bekende wêreld se inwoners in die eerste en tweede eeu nC was slawe*. ’n Slaaf was die eienaar se ekonomiese bate en wettige eiendom. Hulle is as menslike gereedskap beskryf.

Israel* was dienaars*/slawe van die Here* wat hulle uit Egipte* bevry het (Lev 25:55), en moes Hom onverdeeld dien (Deut 6:4). Johannes*, Petrus* en Paulus* noem hulleself dienaars van Christus* (Rom 1:1; Tit 1:1; Op 1:1). Jakobus*2 en Judas* sê hulle is slawe van Christus, al was hulle sy broers (Jak 1:1; Jud 1:1). ’n Slaaf van Christus* was onverdeeld lojaal aan Hom, die kerk* en die evangelie* (Ef 3:7; Kol 1:24-25; 1 Kor 9:19). Omdat Paulus* ’n slaaf van Christus was, kon hy nie mense* se guns soek nie (Gal 1:10).

Slawe kon geld (Kyk by: Mate, gewigte, geld) verdien, spaar en uiteindelik hulle vryheid* koop. As vrygekoopte slawe deur Christus (Rom 6:17, 18, 22; 1 Kor 7:23), volg ons die voorbeeld van Jesus* wat nie gekom het om te heers nie, maar om selfopofferend as slaaf te dien* (Mark 10:43-45). ’n Goeie slaaf van Christus dien ander (Joh 13:13-17), verkondig die evangelie, bly aan die goeie leer getrou, is vriendelik* en verdra onreg (1 Tim 4:1-6; 2 Tim 2:24).

As ’n mens ’n slaaf van Christus is, het die woord “slaaf” nie meer ’n negatiewe konnotasie nie, maar word dit positief verstaan: Jy behoort dan vrywillig en van harte aan die Here Jesus en dien Hom (en daarom ander) sonder dwang met jou hele lewe. (Kyk ook: Slawerny in Bybelse tye.)

 

Sidebar