SLANGE

SLANGE was volop in die Palestynse* landskap, en verskeie soorte word regdeur die Bybel* vermeld. Weens hulle giftigheid, verraderlikheid en hipnotiese aantrekkingskrag is hulle gevrees en word slange in ’n verskeidenheid negatiewe metafore* gebruik. In die Ou Nabye Ooste is slange dikwels met wysheid (magie), vrugbaarheid, onsterflikheid, maar ook met chaos en dood* geassosieer. In Num 21 is slange instrumente van God se oordeel*, maar ook van sy helende mag. In Egipte*, waar Moses* se staf in ’n slang verander, verteenwoordig slange wysheid en magiese krag. Die slang (uraeus) was ook die simbool van die farao* se mag. In Sumeriese en Mesopotamiese skeppingsmitologieë verteenwoordig die slang die chaosmagte en verleidelike gode wat die lewensorde bedreig. Die slang in Gen 3 is gewoonweg deel van die diereryk en word nie as ’n bose mag naas God geteken nie. Dit is eers in apokriewe* Joodse* geskrifte uit die 1ste eeu vC en daarna dat die slang met Satan* geassosieer is. Die draak van Op 12:3 en 20:2 lê in die verlengde hiervan. Hierdie verwysings was bepalend vir die Christelike interpretasie van die slang. Al verteenwoordig slange lewensbedreigende magte in die skepping, het hulle tog ’n plek in God se nuwe eskatologiese* orde (Jes 11:8-9).

 

Sidebar