SLAWERNY

SLAWERNY is ’n sosiale gebruik waardeur mense deur ander as eiendom besit word terwyl hulle hulle basiese regte ontneem word. Hulle is objekte van die reg, nie subjekte nie. Slawe is in die geskiedenis veral gebruik om harde fisieke arbeid te verrig.

Slawerny in Bybelse tye. In antieke (ook Bybelse*) tye was dit normale praktyk dat ’n mens ander mense as eiendom kon verkry deur oologsbuit, aankoop of erflating. Ou-Testamentiese* reëls het die stelsel meer menslik probeer maak. Teoreties kon Israeliete* (meestal as gevolg van skuld) net tydelik slawe van ander Israeliete word. ’n Oorlogsgevangene wat deur ’n Israeliet as vrou geneem is, is nie langer as ’n slavin beskou nie. Gelowiges moes manlike slawe besny en hulle is as deel van die huishouding beskou.

Om die vlug van slawe te verminder, is sommige in Mesopotamië soos vee gebrandmerk. Die kode van Hammurapi* skryf straf voor vir diegene wat ’n vlugtende slaaf help. Deuteronomium 23 moedig gelowiges egter aan om vir wegloopslawe beskutting te gee. Paulus* pleit by Filemon* om Onesimus* as ’n “broer” terug te neem.

Die bekroning van alle mense met die koninklike titel van “beelddraers van God”* en die belydenis dat daar in Christus* “geen slaaf of vryman” is nie (Gal 3:23), word algaande die nuwe mensbeskouing van Christene*. Gelowiges het die implikasies van hierdie gelykwaardigheid nie dadelik besef en konsekwent uitgeleef nie. Paulus veroordeel slawerny nie, maar kies eerder om slawe van “binne-uit” te bevry.

Slawerny in moderne tye. Die handel in slawe het veral vanaf die 17de eeu vanuit Afrika* na Amerika plaasgevind. Dit het tot geweldige wreedheid gelei. Groot getalle mense is ontheem uit hulle plek van geboorte en oor die Atlantiese Oseaan gevoer na ’n lewe van onmenslike onderdrukking. Dit word bereken dat ongeveer 1,8 miljoen Afrikane* in Amerika hervestig is. Ironies genoeg, het die grootste weerstand teen slawehandel en slawerny vanuit die koloniale Britse Ryk se moederland, Engeland, gekom.

Slawerny aan die Kaap. Soos in die meeste gekoloniseerde gebiede, was slawerny ’n aanvaarde praktyk aan die Kaap gedurende die era van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC)* (1652-1795), hoewel dit nooit in Nederland self toegepas is nie. Ten spyte daarvan dat sommige gelowiges slawerny as onchristelik beskou het, het die meeste Kaapse kerklui dit destyds nie as teenstrydig met Bybelse voorskrifte gesien nie.

Aanvanklik was alle slawe aan die Kaap in privaatbesit, maar die VOC was weldra self by die slawehandel betrokke om in die groeiende arbeidsbehoeftes te voorsien. Die meerderheid van die Kaapse slawe het van Indië, Ceylon en die eilande van Nederlands-Oos-Indië gekom, alhoewel Madagaskar en die oos- en weskus van Afrika ’n aansienlike getal voorsien het. Die aantal slawe aan die Kaap het van 1662 tot 1795 toegeneem van 136 tot ongeveer 17 000 persone. Toe slawerny op 1 Desember 1834 aan die Kaap afgeskaf is, was daar sowat 39 000 slawe, wat ’n groot deel van die Kaapse bevolking verteenwoordig het.

Die houding van die Kaapse Kerk* oor die slawe het berus op ’n besluit van die Dordtse Sinode (1618-1619), waarvolgens kinders van nie-Christelike ouers wat in Christelike huishoudings opgroei, gedoop* moes word. Gedoopte slawe het dieselfde godsdienstige regte as ander Christene geniet en was ook op Christelike onderwys geregtig. Die meerderheid het egter die Islam*-geloof behou.

Kerke het die 18de eeuse slawehandel geduld, terwyl die sendinggenootskappe* krities was. Humanitêre bewegings het slawerny die sterkste bestry. John Wesley* het slawerny in 1744 sterk veroordeel en William Wilberforce* (1759-1833) het ná ’n stryd van drie dekades daarin geslaag om dit in Engeland afgeskaf te kry, Die Amerikaanse Burgeroorlog het, veral deur die toedoen van Abraham Lincoln, ook tot die afskaffing van slawerny in daardie land gelei.

Ná die vrystelling van die slawe aan die Kaap het ’n aansienlike aantal van hulle op sendingstasies soos Genadendal, Groene Kloof (Mamre) en Elim gaan woon. In 1838 het die St Stephen’s-gemeente* vir vrygestelde slawe in Kaapstad tot stand gekom en 19 jaar later is dié gemeente by die NG Kerk* ingelyf.

Alhoewel slawerny in die Westerse wêreld formeel afgeskaf is, kom dit steeds elders in ander vorme voor, onder andere in kinderarbeid en by agtergestelde armes wat deur despote uitgebuit word.

Vir verdere lees: AJ Böeseken 1977 Slaves and Free Blacks at the Cape, 1658-1700. Kaapstad: Tafelberg; HF Heese 1994. Reg en onreg. Kaapse regspraak in die agtiende eeu. Bellville: Instituut vir Historiese Navorsing, Universiteit van Wes-Kaapland.

 

Sidebar