SLEUTELMAG

SLEUTELMAG. Die Here* Jesus* het aan die apostel Petrus*, ná sy belydenis dat Jesus die Seun* van God is, die sleutelmag gegee (Matt 16:19). Met “sleutelmag” word bedoel die amptelike volmag (gesag) wat die kerk* het om, op grond van die belydenis dat Jesus die Christus*, die Seun van die lewende God, is, aan mense te verkondig wie se sonde vergewe is, en wie s’n nie. (Dit gaan dus nie om Petrus nie, maar om sy belydenis.) Die Heidelbergse Kategismus*, Sondag 31, sê wat die twee sleutels is waarmee die koninkryk oop- en toegesluit word:  die verkondiging van die heilige evangelie* (wat op stuk van sake beteken om te verkondig dat Jesus die Seun van God is) en die Christelike tug* (optrede wanneer dié belydenis in leer en lewe misken word). Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit (Vraag en Antwoord 83; vgl Antwoord 84 en 85 vir die verdere uiteensetting).

Volgens Protestantse* opvatting gee Christus* dié sleutelmag aan die geroepe en gevolmagtigde ampsdraers in die kerk: leraars*, ouderlinge* en diakens*. Hulle oefen namens Christus die sleutelmag uit en solank hulle dit volgens die Woord* van God doen, moet dit gehoorsaam word. Volgens die Katolieke Kerk* is die pous* die direkte opvolger van Petrus en die verteenwoordiger van Christus op aarde. Derhalwe dra sy woord vir hulle die hoogste gesag.

 

Sidebar