SMALL, ADAM

SMALL, ADAM (1936–2016) is op Wellington gebore en debuteer as digter met Verse van die liefde (1957) waarin die verhouding tussen God en mens en mens en mens verwoord word en die digter te kenne gee dat liefde die oplossing bied vir alle probleme, ook dié tussen rasse. Sy belangrikste digbundels volg in die 1960’s en 1970’s: Kitaar my kruis (1961; hersien 1987), Sê sjibbolet (1963) en Oos wes tuis bes Distrik Ses (1973). Hierin word die kleurkwessie in die land in vrye verse met ’n los strofebou skrynend, soms bittersoet, blootgelê, meestal in Kaapse Afrikaans*. Die stramien van die gedigte is ’n bruinman se verhouding tot God en samelewing, en die apartheid*situasie in die land toe die verse ontstaan het, met parallelle uit die Bybelse tyd: die Israeliete in Egipte*, Moses*, Jesus* as uitgestotenes (“Vyfde Evangelie”, Kitaar my kruis). Kitaar my kruis is Small se beste bundel met frases daarvan wat in aldagtaal bly vassteek het: “kô, lat ons sing” (al is daar bra min rede om te sing), “die Here het gaskommel/en die dice het verkeerd gaval vi’ ons/daai’s maar al”.

Small se roerende drama, Kanna hy kô hystoe (1965), vertel in sewe episodes die verhaal van ’n bruin plaasgesin wat, ná die dood van die pa, na die stad verhuis. Dit vertel van mense wat, uitgelewer aan allerlei kragte in ’n glibberige wêreld waarvan hulle min verstaan, ’n vastrapplek probeer kry.

Small is die digter/dramaturg wat die worsteling van nie-militante mense om die geloof* te behou en te bly sing in ’n land wat hulle slag op slag met die nek aangekyk het, die aangrypendste in Afrikaans* verwoord het.

In 2012 is die Hertzogprys vir letterkunde einde ten laaste aan Small vir sy hele oeuvre toegeken. In ’n hoofartikel ná sy dood, het Die Burger onder die opskrif “Small se werk is ’n hoeksteen vir geregtigheid” geskryf: “Kernbelangrik in sy lewenswerk (en in enige setel of uithoek van die wêreldletterkunde) is die stemme wat onreg uitwys sonder om te beskuldig of te haat, ’n diepgaande sin vir medemenslikheid en naasteliefde. Sodoende bly sy voorbeeld ’n hoeksteen vir ’n soort saamleef in Suid-Afrika van ‘voortbestaan in geregtigheid’”(28 Junie 2016).

Vir verdere lees: Adam Small 1961, 1987. Kitaar my kruis. Kaapstad, Pretoria: HAUM.

 

Sidebar