SMIRNA

SMIRNA is een van die oudste stede aan die weskus van Klein-Asië wat ook een van die belangrikste handelstede in die gebied geword het weens sy uitstekende ligging as hawestad op ’n belangrike handelsroete. Dit was ’n deel van antieke Griekse politieke groeperings totdat dit deur die Lidiese koning Aljattes vernietig is. Die stad is eers 200 jaar later weer deur Aleksander* die Grote en sy opvolgers herbou en vergroot. Die Romeine het dit ingelyf by die provinsie Asië* (Kyk by: Romeinse Ryk), maar dit was ’n vrystad wat volgens sy eie interne wetgewing geregeer is. In 23 nC het die stad ’n besondere eer vir stede in daardie tyd beding toe dit verlof gekry het om ’n tempel vir keiser Tiberius*, sy vrou en die senaat te bou. Dit was ook bekend as die mooiste stad in die provinsie Asië. Die gemeente van Smirna is die tweede van die sewe waarna in Openbaring* verwys word (Op 1:11; 2:8-11). Die stad is verder bekend as die plek waar biskop Polikarpos*, skrywer van die Brief van Polikarpos aan die Filippense, in die ouderdom van 86 jaar op die brandstapel ’n marteldood gesterf het (155 nC). Die stad is in 178 nC deur ’n aardbewing vernietig, maar kort daarna weer herbou.

 

Sidebar