SMIT, DIRK JACOBUS

SMIT, DIRK JACOBUS (1951–) is ’n boorling van Moorreesburg. Hy behaal al sy formele kwalifikasies aan die Universiteit van Stellenbosch, wat ’n MA in filosofie insluit. Hy promoveer in dogmatiek* in 1979. Smit is getroud met Ria, dogter van Willie en Elizabeth Jonker (Kyk by: Jonker, WD) . Hy is ’n geordende leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA)* en was vir twee dekades verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Fakulteit Teologie. Sedert 1994 is hy deeltyds en vanaf 2000 voltyds professor in die departement sistematiese teologie* en ekklesiologie* aan die Universiteit van Stellenbosch.

Smit het ’n wye publikasielys wat akademiese artikels, referate en boeke insluit, sowel as heelwat populêre Christelike publikasies. Hy is verantwoordelik vir die rubriek “Geestelike waardes” in Die Burger, waar hy teologie na die markplein toe neem. ’n Monumentale bydrae tot die Suid-Afrikaanse teologiese wêreld is sy mederedakteurskap saam met Coenie Burger* en Bethel Müller* van die reeks preekriglyne Woord teen die lig, waarvan 24 volumes verskyn het. Een van die mees gelese boeke in dié reeks was sy Hoe verstaan ons wat ons lees? wat later in ’n uitgebreide vorm as Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan verskyn het. Van dié boek is gesê dat Smit die leser op ’n fassinerende reis deur die Bybel* vat “wat met ’n ryk teks nie net van ’n enorme geleerdheid spreek nie, maar ook van ’n empatiese insig in die spirituele behoeftes van gelowiges om die Bybel te verstaan en in hulle lewens toe te pas” (Christina Landman* in Studia Historiae Ecclesiasticae, vol XXXII, nr 3).

Smit se akademiese werk word internasionaal hoog geag. Hy is aangewys as genoot van die Wissenschaftskolleg zu Berlin sowel as van die Center of Theological Inquiry in Princeton, VSA. Plaaslik is hy bekroon met die Andrew Murrayprys* vir Teologiese Artikels vir sy artikel “In diens van die tale Kanaäns” wat in 2002 in die NGTT verskyn het. Die Andrew Murrayprys* vir Teologiese Boeke is in 2011 aan hom toegeken vir Geloof en openbare lewe. Ná sy formele aftrede aan die Universiteit vanStellenbosch, het hy in 2017 ’n hoogleraarskap aan die Princetonse Theological Seminary in die VSA aanvaar.

Dirkie Smit is een van die primêre opstellers van die Belydenis van Belhar*, en het saam met Jaap Durand* die boek ’n Oomblik van waarheid geskryf wat hoofsaaklik oor dié belydenisskrif handel. Daarin word aangedui hoe verwikkeld en ingewikkeld die totstandkoming van ’n belydenisskrif eintlik is, en waarom die Belydenis van Belhar nodig was.

Vir verder lees: Smit, D J 2006. Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan. Wellington: Lux Verbi.BM.

 

Sidebar