SMIT, ERASMUS

SMIT, ERASMUS (1778–1863) is in Amsterdam gebore waar hy ’n kort teologiese opleiding by die Nederlandsche Zendelinggenootschap gehad het. Die sending*nood in Suid-Afrika het die direkteure van die genootskap genoodsaak om Smit en twee ander sendelinge* vroeër as gebruiklik in te seën en in 1802 na die Kaapkolonie te stuur. Smit het dus nie die amptelike bevoegdheid gehad om sakramente* te bedien nie.

Terwyl hy nog in Bethelsdorp gewerk het, is eerw Smit in 1813 getroud met die dertienjarige Susanna Maritz, suster van Gert Maritz*. Ná die begin van die Groot Trek* verlaat die Smits, met Erasmus se swaer se geleende ossewa, die Kaapkolonie in 1836 as deel van Maritz se trekgeselskap. As enigste geestelike wat die trek vergesel, is Smit met Piet Retief * se steun as predikant* van die Voortrekkers* bevestig. Hy was egter vir talle Voortrekkers onaanvaarbaar as predikant, veral oor sy onregmatige bediening van die sakramente. Eerw Smit was ook ʼn moeilike en liggeraakte mens wat periodiek tweedrag veroorsaak het. As toegewyde Christen het hy nietemin ’n groot bydrae tot die handhawing van die Christelike geloof* tydens die Groot Trek gemaak, veral omdat die trek nie deur die Kaapse Kerk* ondersteun is nie. Smit se dagboek (1836–1838) en die doop*register wat hy op trek gehou het, gee insiggewende besonderhede oor die Voortrekkers se doen en late en is van groot kultuurhistoriese waarde.

Susanna Smit, sy vrou, het ook ’n dagboek met bygaande poësie nagelaat wat haar vasberadenheid, krag én piëteit as dapper en gekultiveerde vrou weerspieël het. Dit was sy wat namens die ander teenwoordige Voortrekkervroue tydens ’n onderhoud met adv Henry Cloete, Britse kommissaris, verklaar het dat die vroue eerder kaalvoet oor die Drakensberg sou trek as om onder Britse gesag te lewe.

Vir verdere lees: PS de Jongh 1977. Die lewe van Erasmus Smit. Kaapstad: HAUM. “Dagboek van Erasmus Smit” in: GS Preller 1920. Voortrekkermense 11. Kaapstad: Nasionale Pers.

 

Sidebar