SMIT, HUIBERTA JOHANNA MARIA (BERTA)

SMIT, HUIBERTA JOHANNA MARIA (BERTA) (1926–1997) is op Hopefield gebore. Sy werk mettertyd in Kaapstad as redakteur van Naweekpos en uitgewersredakteur by NG Kerk-uitgewers. Sy sluit in haar romankuns by die Sestiger-vernuwing in die Afrikaanse prosakuns aan – met onder meer die deureenskuiwing van verhaalvlakke en ’n achronologiese volgorde van gebeure – en verbeeld sodoende aktuele Christen-problematiek. In Die vrou en die bees (1964) word die allegorie as middel tot ’n eietydse perspektief op die Christelike leefpatroon aangewend. Die Christen se opdrag om deur die werking van die Heilige Gees* die “ou mens” te kruisig en as geroepene uit te gaan om die naaste vir Christus* te red, word romanmatig verken. Een plus een (1967) het te doen met probleme rondom die verkondiging van die Woord* – menslike ontoereikendheid teenoor die Ewige en die Absolute. Die man met die kitaar (1971) lei tot ’n vergestalting van die Christen se geloof in die vernuwing wat kan volg op vernietiging. Juffrou Sophia vlug vorentoe (1993), ’n roman met ’n postmodernistiese aanslag, handel oor ’n ouer, ernstige siek vrou se intense selfondersoek met die verandering van die staatkundige bestel in Suid-Afrika. Sy bekyk haar geloof*, en die teologie* wat daaraan ten grondslag lê, in die lig van die landsituasie wat geheel en al aan die verander is en ou sekerhede wat daarmee saam verdwyn. Hierdie werk, geskryf in haar eie ouderdom, kan beskou word as Smit se rypste én aangrypendste roman, en is in 1994 met die Andrew Murrayprys* bekroon.

 

Sidebar