SMIT, STEPHANUS SEBASTIAAN (FANIE)

SMIT, STEPHANUS SEBASTIAAN (FANIE) (1935–) het ’n lang verbintenis met die radio. Na voltooiing van sy teologiese studie aan die Universiteit van Stellenbosch, was hy vier jaar lank betrokke by die NG Kerk* se sending*werk in Malawi waar hy godsdienstige programme vir die plaaslike kerk vervaardig het. In 1970 is hy na Birchleigh beroep en in 1973 aanvaar hy die pos as omroeper-regisseur by die destydse Afrikaanse Diens van die SAUK. ’n Jaar later word hy die eerste regisseur by TV1 se nuutgestigte departement vir godsdienstige programme. In Februarie 1972 begin hy met sy vryskut-radioprogram, Alle volke, loof die Here (later Loof die Here), wat dekades lank haas sonder onderbreking oor Radiosondergrense (RSG) uitgesaai word. Die program bestaan uit godsdienstige musiek in klassieke styl van oor die hele wêreld. Smit het in sy loopbaan toekennings van die Afrikaanse Taal- en Kultuur-Vereniging en die Andrew Murray-prysfonds ontvang vir sy volgehoue pogings om goeie musiek in die algemeen en godsdienstige musiek in die besonder te bevorder.

 

Sidebar