SMUTS, JAN CHRISTIAN

SMUTS, JAN CHRISTIAN (1870–1950) is, soos DF Malan*, sy opvolger as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, op ’n plaas by Riebeeck-Wes gebore. Hy is as seun deur opwekkingspredikers beïnvloed en was in ’n stadium Malan se Sondagskoolonderwyser. Smuts het in 1891 BA in letterkunde en wetenskap behaal en het sy studie aan die Universiteit van Cambridge voortgesit. Hy het ook regte bestudeer aan die Middle Temple in Londen en daarna in Kaapstad as prokureur begin praktiseer. In Junie 1898 is Smuts as staatsprokureur in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangestel en hy speel ’n belangrike rol as adviseur van pres Paul Kruger* voor die Anglo-Boereoorlog*. Hy skryf ook net voor die oorlog ’n pamflet getiteld Een eeuw van onrecht waarin hy Britse optrede in Suid-Afrika sedert 1815 skerp veroordeel. Smuts was gedurende dié oorlog ’n veggeneraal en lei later die inval in die Kaapkolonie. Hy speel ’n prominente rol tydens die onderhandelings wat die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 voorafgegaan het.

Ná die oorlog word Smuts lid van die destydse Transvaalse kabinet en skaar hom toenemend by ’n pro-Engelse taalbeleid vir die onderwys en landsadministrasie. Met Louis Botha* en sy versoenende houding teenoor Brittanje ná die Anglo-Boereoorlog, was Smuts as minister van verdediging die sentrale figuur in die besluit dat Suid-Afrika in die Eerste Wêreldoorlog* aan Britse kant moes deelneem. As voorstander van militêre optrede in die rebellie* het Smuts vervreemd geraak van talle Afrikaners*. Vanweë sy onverbiddelike optrede as eerste minister tydens die 1922-staking, het nog meer Afrikaners en werkers teen Smuts gedraai. Dit dra daartoe by dat sy Suid-Afrikaanse Party die algemene verkiesing van 1924 verloor. Hy word in die laat-1930’s vir ’n tweede keer eerste minister, was ’n aktiewe ondersteuner van die Britse oorlogsbeleid in die Tweede Wêreldoorlog*, en het in 1943 die rang van veldmaarskalk ontvang. Hy het egter toenemend uit voeling geraak met politieke werklikhede in Suid-Afrika en die verkiesing van 1948 verloor.

As filosoof het Jan Smuts met sy sienings oor holisme*, wat hy reeds aan die Universiteit van Cambridge ontwikkel het, probeer om ’n mistieke eenheid tussen verskeidenhede te versoen. Die Britse Ryk het op politieke vlak vir hom só ’n bepalende grootheid verteenwoordig. Die Christelike geloof* moes volgens hom ook sy posisie in die verskeidenheid van die wêreld se godsdienstige stelsels vind. Hy het die waarde en betekenis van die Christelike geloof ten volle erken, maar was in sy later lewe nooit ’n openbare ondersteuner daarvan óf van die konserwatiewe Calvinisme* van sy jonger jare nie. Smuts het selfs die Godsidee uit die natuurlike wêreld benader met God as die innerlike “goeie” van die heelal. Hy het verder probeer om die persoonlikheid van Jesus* te peil en die Goddelike in elke mens te ontdek. As internasionale staatsman het hy ’n prominente rol in die stigting van die Volkebond in 1920 en die Verenigde Nasies in 1945 gespeel.

 

Sidebar