SMUTS, MICHAEL JOHANNES (MIKE)

SMUTS, MICHAEL JOHANNES (MIKE) (1919–1996), was ’n begaafde mens en predikant*. As talentvolle sportman speel hy losskakel vir Grens se onder 19-rugbyspan. Tydens sy teologiese studie is hy drie jaar lank kaptein van die Universiteit van Pretoria se eerste krieketspan. Hy was ’n tekenaar vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë toe hy sy roeping om predikant te word, ontvang het. Uiteindelik behaal hy sy teologiese kwalifikasies met lof.

Hy het drie gemeentes* van die NG Kerk* bedien: Rietfontein-Noord, Lyttelton-Oos en Pietermaritzburg-Noord. Hy beklee ook die sinodale pos vir ampsbediening, evangelisasie* en jeugbediening in die Sinode van Oos-Kaapland. Hy tree af as hoofsekretaris van die Afrikaanse Christen-studentevereniging (ACSV) *. Gedurende sy bediening in Natal het hy ook as assessor (ondervoorsitter) van die sinode* gedien.

Smuts se kinderlike geloof en omgang met die Here*, sy liefde vir sy gesin, sy evangeliese passie en liefde vir die NG Kerk* is deel van sy nalatenskap. Hy sal veral onthou word vir sy gawe om tieners en jongmense te bedien. Hy was die hoofleier van en dryfkrag agter die landwye Jeug-tot-Jeugaksie* van 1974.

Smuts se vrou, Margie, het in eie reg ’n merk gemaak as skrywer van romans en koekversieringboeke en ’n voorloper in kerklike vroueaksies. Hulle een seun, Mike jr, het later onder meer assessor van die Algemene Sinode van die NG Kerk geword, en hulle dogter, Eulogia (Logy), het baanbrekerswerk gedoen met die vestiging van die Christen-vigs*buro aan die Hugenote Kollege*.

 

Sidebar