SNYMAN, DWIGHT RANDOLPH

SNYMAN, DWIGHT RANDOLPH (1891–1978) het sy teologiese opleiding van Princeton Theological Seminary ontvang en het daarna in 1923 in Louisville, Kentucky gepromoveer en is daar gelegitimeer. Tydens sy studietyd in Princeton was prof Gresham Machen ’n vooraanstaande teoloog wat gewaarsku het teen die gevaar van teologiese liberalisme. Hierdie blootstelling het later in sy bediening ’n groot invloed gehad. Snyman het die NG gemeentes* Woodstock vanaf 1924 en Stellenbosch vanaf 1927 bedien. Hy het later gedien as Sondagskoolsekretaris van die Gefedereerde Sondagskoolkommissie van die NG Kerk van 1947 tot 1962. Sy Nuwe Katkisasieboek is wyd gebruik.

Snyman word veral onthou vir sy opponering van prof J du Plessis* tydens die bekende Du Plessis-saak. Hy het Du Plessis gesien as ’n voorstander van die modernisme*. As leraar van die gemeente Stellenbosch (1927–1947) sou hy direk met die saak gemoeid wees.

Hy het Ou Paaie as “ortodokse blad” in Junie 1926 begin as teenvoeter van Het Zoeklicht wat onder die redaksie van Du Plessis verskyn het. In sy later lewe het hy verskoning gevra vir sy felle optrede tydens die Du Plessis-saak.

 

Sidebar