SOCINUS, FAUSTUS PAULUS

SOCINUS, FAUSTUS PAULUS (1539–1604) en sy ouer neef Lelio Socinus (1526–1562) was die grondleggers van die Socinianisme. Hulle stelsel kan kortliks omskryf word as Pelagiaans-Scotisties en krities humanisties. Alles word gemeet aan die maatstaf van die gesonde rede. Wat daarmee in stryd is, word verwerp. In die Godsleer was hy ’n volstrekte en oortuigde Unitariër*. Van die belydenis van die Drie-eenheid* wou hy niks weet nie. In Scotisties-nominalistiese gees word die absolute vryheid van God geleer. God se wil word losgemaak van sy deugde. God kan in absolute soewereiniteit handel. Hy kan na sy welbehae die regverdige verdoem, sonde* vergewe of nié vergewe nie, én straf. In sy deugde is God onveranderlik. By die omskrywing daarvan, tref die sterk redelike inslag. Geregtigheid van God* word bv omskryf as die optrede na die voorskrifte van die rede en die betragting van billikheid. Vanuit hierdie grondoortuiging word die leer van die genoegdoening* sonder verskoning bestry. Ná Socinus se dood het die Kategismus van Rakow in 1605 verskyn wat sterk deur Socinus beïnvloed is. Die Socinianisme het baie aanhangers in Pole, Duitsland en Nederland gehad.

Vir verdere lees: ADR Polman, “Socinus, Faustus” in: FW Grosheide en GP Itterzon, Christelijke Encyclopedie Deel 6. Kampen: Kok.

 

Sidebar