SÖDERBLOM, LARS OLOF JONATHAN (NATHAN)

SÖDERBLOM, LARS OLOF JONATHAN (NATHAN) (1866–1931). Hoewel uit ’n piëtistiese (Kyk by: Piëtisme) ouerhuis, het Söderblom bekendheid verwerf as Sweedse godsdienshistorikus en pionier van die ekumeniese* beweging. Hy het in Uppsala studeer en word as Lutherse* pastoor georden in 1893. As briljante navorser oor die Verre-Ooste het hy aan die Sorbonne (Parys, Frankryk) gepromoveer, en as Lutherse predikant* kapelaansdiens gedoen in Parys (1894–1901). Daarna het hy dosent geword in godsdiens­geskiedenis in Uppsala (1901) en Leipzig (1912) en talle boeke geskryf.

Sy werk in Christelike studentebewegings het sy belang­stelling in sending*, die kerklike en sosiale lewe gestimuleer. Dit het gelei tot nasionale en internasionale kerklike leierskap. Hy word aartsbiskop van die Lutherse Kerk* in Uppsala, Swede (1914), vestig interkonfessionele gesprekke in Indië, ’n ooreenkoms met die Anglikane* (1922), en bevorder verhoudings met gereformeerdes* en Ortodokse kerkleiers (Kyk by: Grieks-Ortodokse teologie), asook met “moderniste” uit die Katolieke Kerk* in sy soeke na “evangeliese katolisiteit”. Tydens die Eerste Wêreldoorlog* kom sy soeke na sosiale geregtigheid*, vrede* en eenheid* tussen Christene, afgesien van konfessionele agtergrond, na vore.

Söderblom het sinoniem geraak met die eerste internasionale Konferensie vir Praktiese Christendom (Life and Work) in Stockholm 1925, waar die na-oorlogse isolasie deurbreek en die begronding vir die ekumeniese beweging gedoen is, wat in 1948 sou uitmond in die stigting van die Wêreldraad van Kerke*. Sy ekumeniese werk is erken deur die toekenning van die Nobelprys vir Vrede (1930).

Vir verdere lees: WJ Kooiman 1961. “Söderblom, Nathan”, in: FW Grosheide en GP van Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie. Kampen: Kok. JD Douglas 1974. “Söderblom, Nathan”, in: JD Douglas (red), The New International Dictionary of the Christian Church. Exeter: Paternoster.

 

Sidebar