SOGA, TYO

SOGA, TYO (1829–1871) se pa was ’n raadgewer van die Xhosa*-opperhoof, Ngqika, sy ma ’n oortuigde Christen* wat haar geloof* met haar seun gedeel het. Ná sy hoërskoolopleiding te Lovedale*, is hy in 1846 na Glasgow, Skotland, waar hy as onderwyser opgelei is. By sy terugkeer na die Ciskei het hy die sendelinge* in die omgewing op allerlei maniere bygestaan. In 1851 is hy vir die tweede keer na Skotland, dié keer om as predikant* opgelei te word. In Glasgow het hy nie net sy teologiese studie voltooi en is hy as predikant georden nie, maar het hy ook met ’n Skotse dame, Janet Burnside, in die huwelik getree. Terug in die Ciskei, in 1857, het Tyo Soga op baie terreine sy merk gemaak: as kerkleier van die Presbiteriaanse Kerk*, prediker, digter, Bybelvertaler en kampvegter vir sy mense. Soga, die “Black Scotsman”, wat soveel gedoen het om die evangelie* aan sy mense te bring en om hulle aan te moedig om, as Christene, hulle Xhosa-kultuur en tradisies hoog te ag, word deur baie as die vader van swart nasionalisme in Suid-Afrika beskou. Die Presbiteriaanse studentevereniging aan die Universiteit van Pretoria dra die naam van Tyo Soga.

 

Sidebar