SÖLLE, DOROTHEE

SÖLLE, DOROTHEE (1929–2003) is ’n Duitse vroue-teoloog wat teologies weerstand gebied het teen alle vorms van onderdrukking. Sy het aan die Universiteit van Keulen in teologie* studeer, en haar doktorsgraad behaal oor die verhouding tussen teologie en poësie. In 1954 trou sy met ’n kunstenaar, Dietrich Sölle. Sy raak al hoe meer by politieke sake betrokke en word bekend as ’n publieke teoloog. Sy spreek haar veral uit teen die ongeregtighede wat teen die Derde Wêreld* gepleeg word, en teen vroue-diskriminasie wêreldwyd. In 1964 skei sy van haar man en begin om die Politieke Naggebede in Keulen te organiseer, waar sy ook haar tweede man ontmoet. In 1969 trou sy met Fullbert Steffensky, ’n voormalige Benediktynse monnik*. Sölle het verskeie boeke geskryf en heelwat nuwe en kreatiewe konsepte in die teologie ingelyf. Sy is veral bekend vir die frase “God is dood”, waarmee sy wou sê dat God nie in die hemel sit en ons laat ly vir ’n groter doel nie. Dáárdie God is dood. Die lewende God woon hier tussen ons op aarde en veg saam met ons teen onderdrukking en lyding. Die meeste van haar werk handel oor politieke teologie en politieke spiritualiteit*. Sy het ook oor die verwondbaarheid van die gelowige geskryf. Haar outobiografie is in 1999 gepubliseer as Against the Wind: Memoir of a Radical Christian, ’n titel wat waarskynlik haar lewe en teologie goed tipeer. Sölle het nooit ’n professoraat in Duitsland beklee nie, alhoewel sy in 1994 ’n ereprofessoraat van die Universiteit van Hamburg ontvang het. Tussen 1975 en 1987 was sy professor in sistematiese teologie aan die Union Theological Seminary in New York.

 

Sidebar