SOLOMON, SAUL

SOLOMON, SAUL (1817–1892), was een van die eerste studente van die “Suid-Afrikaanse Kollege”. Hy verlaat die skool weens finansiële redes en werk by die drukker, George Greig. In 1847 neem hy en ’n broer die besigheid oor en van 1857–1885 druk hulle onder andere die Cape Argus, waarvan hy van 1863–1881 ook die eienaar was. Van 1854 verteenwoordig hy Kaapstad in die Verteenwoordigende Raad en beywer hom vir die vergroting van die hawe en die bou van telegraaf- en spoorlyne. In 1872, met die instelling van verantwoordelike regering, word hy gevra om eerste minister te word, maar, omdat hy fisiek gestremd was, aanvaar hy dit nie. Hoewel van Joodse* afkoms, was hy en sy broers verbonde aan die Kongregasionaliste Kerk*. Hy was ’n sterk teenstander van staatsteun aan die NG* en Anglikaanse* kerke. Van hom is gesê dat hy die enigste Kaapse politikus was “who never had an object in view except what he believed to be right and just”. Enige vorm van onreg, veral teenoor die inheemse bevolking, het hy sterk teengestaan. Sy broer Edward was lank verbonde aan Lovedale*.

 

Sidebar