SONDAG

SONDAG. Keiser Konstantyn* het in 321 nC verklaar dat die “dag van die son” ’n amptelike rusdag sou wees. Die Russies-Ortodokse (Kyk by: Grieks-Ortodokse teologie) tradisie noem Sondag “Opstandingsdag”. Hoewel Christene* blykbaar reeds aan die einde van die eerste eeu gereeld op hierdie dag bymekaar gekom het – waarskynlik voor dagbreek en dalk in die aand vir ’n gemeenskaplike maaltyd*, omdat Sondae gewone werksdae was – is dit nooit met die vierde gebod* verbind nie. Die kerkvaders Ambrosius* en Chrusostomus* was die eerste om hierdie verband te lê.

Op die “eerste dag van die week” (1 Kor 16:1-2; Hand 20:7) en die “dag van die Here” (Op 1:10) het Christus* opgestaan (Matt 28:1; Mark 16:2; Luk 24:1; Joh 20:1), verskyn Hy aan die dissipels* en Emmausgangers, bring Jesus* die twyfelende Tomas* tot die belydenis: “My Here* en my God” (Joh 20:28), word die Gees* uitgestort, en het die gelowiges ook brood gebreek (Luk 24:13-35; Hand 20:7). Vir Christene is Sondag dus ’n dag waarop uiters betekenisvolle dinge gebeur het.

In die Grieks-Romeinse wêreld is een dag van die maand aan die keiser gewy. Christene het Sondae aan die opgestane Here* gewy. Dit het die minste konflik met die byeenkomste in die sinagoges* op die Sabbat* veroorsaak. Eers in die derde eeu het mense probeer om nie op hierdie dag te werk nie.

 

Sidebar