SONDE TEEN DIE HEILIGE GEES

SONDE TEEN DIE HEILIGE GEES is een van die heel moeilikste sake in ons geloof. Daar is twee besondere probleme: die feit dat dit ’n sonde* is wat nie vergewe* kan word nie, waardeur ’n geweldige emosionele las op mense gelaai word wat vermoed dat hulle dit dalk gepleeg het, en die feit dat dit skynbaar God se vergifnis beperk en dus ’n refleksie werp op die omvattende betekenis van Christus* se kruisdood. Daar is ’n paar verwysings in die Bybel* wat gewoonlik met die sonde teen die Heilige Gees* in verband gebring word: Matt 12:31-32; Gal 5:4; Heb 6:4-8; 10:26-31; 12:14-17; 1 Joh 5:16-17. Hierdie sonde word in die Evangelies nog net in verband met die lastering teen die Gees gebring, maar in Hebreërs* ook met lastering teen die Seun*. Dit is miskien die beste om te aanvaar dat dit direk met die evangelie* self te doen het. As iemand die evangelie verwerp, as iemand die betekenis van Christus en sy kruis* verwerp, “is daar geen offer* meer wat ons sondes kan wegneem nie” (Heb 10:26). ’n Mens kan ook daarop let dat daar elke keer teen hierdie sonde gewaarsku word, maar dat daar nooit ’n beskuldiging aan iemand gerig word dat hy/sy dit gedoen het nie. Wie op Christus vertrou en om vergifnis vra, kan altyd seker wees van sy/haar verlossing.

 

Sidebar