SONDE

SONDE. Gen 1–11 is in die geskiedenis dikwels gebruik om die basiese trekke van sonde weer te gee. Hiervolgens het sonde sowel ’n indiwiduele dimensie wat vertikaal (Gen 3:1-24) én horisontaal (Gen 4:2-16) voltrek word, as ’n kollektiewe dimensie wat ook horisontaal (Gen 6:1-4) én vertikaal (Gen 11:1-9) plaasvind. Die Bybel verklaar egter nêrens die oorsprong van die sonde nie, maar verkondig eerder die werklikheid en boosheid daarvan.

Verskillende antwoorde is deur die teologie* gegee oor wat die wese van sonde is. Dit is meestal gesien as 1. hoogmoed, as 2. begeerte en as 3. ongehoorsaamheid. Dit sou ook geïnterpreteer kon word as die mens se oormoed, leuen en traagheid. Barth* het hierdie drieërlei versuim van die mens ook in verband met die drievoudige amp van koning, profeet en priester van Christus* gebring. Sonde is dan in sy wese om Christus te misken. Uiteindelik is dit ook die sonde teen die Heilige Gees*.

Drie dimensies is belangrik vir die teologiese verstaan van sonde. Ons moet onderskei tussen die onheil in die natuur (soos rampe, droogtes, orkane en ander) en die kwaad wat ons as mense onsself en ook ander aandoen. Laasgenoemde kan onderverdeel word in dit waarvoor ek direk en dit waarvoor ek slegs indirek verantwoordelik is. Indirekte sake sou bv wees die sameloop van omstandighede, die akkumulasie van verkeerde besluite en ’n optrede wat negatiewe kollektiewe gevolge het. Derdens moet ons ook die skuld erken in sake waarvoor ons verantwoordelik is.

Augustinus* het in sy belydenisse (VII,22) reeds gesê dat dit nie iets buite die mens is wat hom teen God laat sondig nie, maar wel sy eie wil. Luther* sluit hierby aan met sy publikasie, De servo arbitrio (Oor die geknegte wil) en so ook Calvyn* wat meen dat die taak van die wil is om te kies wat die verstand as goed en reg ag (Institusie I.15.7-8). Die tragiese is nou dat die mens uit sy aard geneig is om verkeerd te kies en dus deur Christus bevry moet word. (Rom 7). Naas die sonde wat die mens doen, is daar dus ook die sonde wat die mens is.

Vandag meen baie teoloë dat sonde eerder as vervreemding verstaan moet word omdat dit die verhoudings met God, die medemens en die natuur versteur het. Sonde omvat dus die totale menslike situasie en die hele menslike persoon. Die klem verskuif ook weg van sonde en skuld, na skaamte en angs toe.

Sonde bestaan dus eintlik net in negatiewe sin, naamlik in die afwesigheid of aktiewe wegneem van die goeie – so bv liefdeloosheid.

Vir verdere lees: A König 1991. Bondgenoot en beeld. Oor die wese van die mens en die sonde. Halfweghuis: NGK. C Westermann 1971. Creation. Londen: SPCK.

 

Sidebar