SONDEVAL

SONDEVAL. Tradisioneel word Gen 3 aangehaal as die sondeval ter sprake kom. Hierdie hoofstuk in die eerste boek van die Bybel* voer die oorsprong van die sonde* terug na die insident tussen die eerste man en vrou na aanleiding van die gesprek wat die vrou met die slang gehad het oor die eet van die verbode vrug van die boom van kennis van goed en kwaad*. Hierdie oortreding het ’n rimpeleffek gehad. Die totale mensheid het hierdeur slagoffer van dood en ellende geword. Dit is die sg erfsonde*. Naas die veronderstelde historiese konteks, word hierdie insident dus ook binne bepaalde kousale kontoere geplaas. Augustinus* (354–430) het ’n tradisie begin wat Rom 5:12 so uitgelê het dat die sonde van Adam* as oorsaak van ellende verstaan is en dit is toe as sleutel gebruik om Gen 3 te interpreteer. Die aanvanklike moontlikheid om nie te sondig nie, is vanweë die sondeval verander na die ónmoontlikheid om nie te sondig nie. Ná die wederkoms* verander dit egter weer na die ónmoontlikheid om te sondig. Na aanleiding van “die slang van ouds” van Op 12:9 en 20:2, is die slang van Gen 3 as die duiwel* beskou en die oorsaak van boosheid kry hierdeur ’n metafisiese karakter. Dit geniet vandag al hoe minder ondersteuning in die teologie*.

 

Sidebar