SOSIALE EVANGELIE (SOCIAL GOSPEL)

SOSIALE EVANGELIE (SOCIAL GOSPEL) is ’n beweging wat in Europa ontstaan het as “Christelike Sosialisme”. In die parallelle beweging daarvan in die VSA, het dit bekend geraak as “Social Gospel”. Dit was ’n Christelike reaksie op die industriële rewolusie se arbeidskwessies, asook die sosiale gevolge daarvan soos armoede*, alkoholisme en kinderarbeid. Deur multidissiplinêre sosiale analise, die uitwys van boosheid in die samelewing en profetiese verkondiging van die koninkryk* van God in alle fasette van die lewe, wou hulle die samelewing verchristelik. Walter Rauschenbush was hier die leidende figuur. Terwyl sommige Christene die evangelie* “verskraal” het asof daar geen sosiale implikasies sou wees nie, het verteenwoordigers van die “Social Gospel” die evangelie “verwater” deur verlossing as sosiale geregtigheid* te beskou en van die heil* in Christus* los te maak. Christus word dan slegs ons morele voorbeeld. Soos in die dubbele liefdesgebod saamgevat (Matt 22:37-40), kan ons die verlossing in Christus uiteraard nooit van die sosiale uitlewing daarvan losmaak nie.

Vir verdere lees: “Is God veral die God van arm mense?” in: Piet Meiring (red) 2001, So glo ons. Vereeniging: CUM. David J Bosch 1979. Heil vir die wêreld. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar