SOSIALE GEREGTIGHEID IN DIE BYBEL

SOSIALE GEREGTIGHEID IN DIE BYBEL. Dit kom as begrip uit die juridiese sfeer en wil die sosiale verhoudings en omstandighede so inrig dat daar geluk en vrede* sal wees, soos die Hebreeuse* woord sjaloom dit tipeer. Dit is God se wil dat mense met Hom en met mekaar “in geregtigheid*” moet lewe. Vanweë die sonde* is daar verskillende oorsake waarom mense in omstandighede van ongelykheid, soos in armoede*, verdrukking en diskriminasie, beland. Die Ou Testament* bevat allerlei voorskrifte om die gevolge van hierdie omstandighede óm te keer en reg te laat geskied aan die benadeeldes soos die armes, die vreemdelinge, die slawe*. Die Jubeljaar (of Hersteljaar) is ingestel om elke 50 jaar aan benadeeldes hulle vryheid, verlore besittings, ens terug te gee. In die Psalms* tree God op as die regverdige Regter*. Dit beteken dat, in die onvermydelike spanning tussen die onregpleger en die verontregte, God se voorkeur na lg uitgaan. Die profetiese verwagting van die Messias* beklemtoon dat sy koms gekenmerk sal word deur ’n verandering van die lot van die benadeeldes. Hierby sluit Jesus* in sy eerste openbare selfbekendstelling aan (Luk 4:18-19). Verder praat Hy op ’n inklusiewe manier oor die armes in die saligsprekings*. Opvallend is sy samevatting van die wet* en die profete* in Matt 7:12: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” In sy prediking* en wonders* bevestig Hy sy keuse vír geregtigheid*, téén onreg (Kyk by: Onregverdig). Met die gelykenisse* van die barmhartige Samaritaan*, die ryk man en Lasarus1*, en andere, word geïllustreer wat sosiale geregtigheid vir Jesus beteken. Jakobus*4 se brief beklemtoon die gevaar wat rykes in die gesig staar as hulle nie hulle rykdom reg gebruik nie. Matteus* onderstreep die feit dat die nastrewing en beoefening van sosiale geregtigheid in hierdie lewe eendag ’n beslissende rol sal speel in die eskatologiese* oordeel* (Matt 25:31-46).

 

Sidebar