SOSIALISME

SOSIALISME is ’n politiek-ekonomiese filosofie* en stelsel wat ontstaan het in felle reaksie op wat beskou is as die onmenslike uitbuiting en verontmensliking van mense (veral die arbeidersklasse) in kapitalistiese samelewings (Kyk by: Vryemarkekonomie). Dit is ’n posisie wat die belange van die indiwidu ondergeskik stel aan dié van die samelewing, en wat daarom die idee van privaatbesit, veral van die produksiemiddele in die samelewing, bevraagteken en kollektiewe besit en beheer voorstaan. Dit is op verskillende maniere in die laat 18de en begin-19de eeu gepropageer deur denkers soos Proudhon, Saint-Simon en Fourier, maar die bekendste eksponent van radikale sosialisme is Karl Marx* (1818–1883).

Marx noem sy idee van sosialisme “wetenskaplike” sosialisme, en beskou dit as die noodsaaklike en onkeerbare uitkoms van wetmatighede wat mense se sosiale verkeer bepaal. Soos Hegel*, merk Marx ’n dialektiese patroon van veranderings in die geskiedenis op (’n tese, wat ’n antitese oproep, en wat opgehef word in ’n sintese). Die dryfveer van hierdie historiese gebeure is egter vir Marx, anders as vir Hegel, nie die “lis van die rede” nie, maar die spanning en botsings tussen klasse. Klasse is groepe wat verdeel rondom die besit van produksiemiddele: in alle samelewings staan die besitters teenoor dié wat niks besit nie.

Die laaste groot klassebotsing van die geskiedenis is vir Marx dié tussen die kapitaliste (bourgeoisie) en die arbeiders (proletariaat) in sy eie tyd. In sy uitvoerige analise van die kapitalistiese sisteem in sy bekende boek Das Kapital toon Marx aan hoe die voortgesette uitbuiting van die proletariaat ’n noodsaaklike voorwaarde is vir die oorlewing van die kapitalisme as stelsel. Hierdie stelsel sal egter tot ’n einde kom. Dit, voorspel Marx, sal die gevolg wees van ’n bloedige rewolusie waarin die “diktatuur van die proletariaat” gevestig sal word, die verskynsel van privaatbesit opgehef sal word, mense bevry sal word van die sleur om meer te produseer as wat nodig is vir oorlewing en algemene voorsiening (soos die geval is in die kapitalistiese stelsel) en mense die vryheid sal bekom om hulle tyd deur te bring met kreatiewe, selfvervullende arbeid.

Politiek-sosialistiese stelsels wat in die loop van die 20ste eeu met ’n beroep op Marx se idees tot stand gekom het (bv in Rusland en China), het klaarblyklik nie die utopiese ideale van Marx in vervulling laat gaan nie. Vandag sien ons dat die Sowjetryk beëindig is en dat die lande waarin dit verbrokkel het, in mindere of meerdere mate teruggekeer het na ’n vryemark-ekonomie. Die demokratiese sosialisme wat deur sommige politieke partye in Westerse lande (bv Brittanje) voorgestaan word, wil gematigde sosialistiese idees aan ’n getemperde vryemarkekonomie koppel. (Kyk ook: Kommunisme.)

Vir verdere lees: WP Esterhuyse 1984. Karl Marx – Filosoof van die Revolusie. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar