SOUBIROUS, ST BERNADETTE

SOUBIROUS, ST BERNADETTE (1844–1879) was die sieklike en analfabetiese dogter van ’n arm Baskiese gesin naby die Lourdes-grot in die suide van Frankryk wat sowat agtien beweerde verskynings van die maagd Maria*1 by Lourdes belewe het. Dié verskynings het in 1858 begin toe sy en twee maats hout in ’n bos gaan soek het. Volgens haar het sy by die grot ’n vrou in wit klere gesien en van die skrik met haar rosekrans* begin bid. Toe die vrou self ’n rosekrans uithaal, het haar moed teruggekeer, waarna geglo is dat Maria aan haar verskyn het. Tydens latere verskynings het die vrou in wit klere Bernadette in Baskies versoek om die plaaslike priester*2 te oorreed om ’n kapel by die grot te bou, maar die priester was skepties daaroor.

Intussen het mense Bernadette na die grot begin volg. Tydens so ’n besoek grawe sy ’n gat met haar hande waaruit water met genesende krag vloei. Die vrou wat aan haar verskyn het, openbaar later haar identiteit as die “Onbevlekte Ontvangenis” – ’n ander naam vir Maria. Bernadette is aan mediese ondersoeke onderwerp, maar geen geestesafwyking kon gevind word nie. Sy vlug later na die klooster* Saint-Gildard om aan die menseverering te ontkom, en is hier op 35-jarige ouderdom oorlede. Ná Bernadette se dood is ’n basiliek oor die grot by Lourdes gebou. Talle geloofsgenesings het sedertdien daar plaasgevind en sy is uiteindelik tot heilige verklaar.

 

Sidebar