SOUTH AFRICAN CHRISTIAN LEADERSHIP ASSEMBLY (SACLA).

SOUTH AFRICAN CHRISTIAN LEADERSHIP ASSEMBLY (SACLA). In Desember 1976 het, vir die eerste keer in die geskiedenis, kerkleiers uit 50 Afrika-lande in Nairobi byeengekom om te konfereer oor die verkondiging van die evangelie* in Afrika* én oor die verantwoordelikheid van die kerke om die nood van Afrika te help verlig (Pan-African Christian Leadership Assembly – PACLA). As regstreekse uitvloeisel hiervan, is die SACLA in Julie 1979 gereël om aan Suid-Afrikaanse gelowiges dieselfde geleentheid te gee. Dit was die eerste keer dat 6 000 gelowiges van verskillende kerke, uit verskillende rassegroepe, op dié manier kon saamkom om saam te sing en te bid en saam oor hulle roeping in die land te praat. In Suid-Afrika, waar apartheid* nog landsbeleid was, was talle regeringsmense en ook Afrikaanse kerkleiers, krities en afwysend.

In Julie 2003 is ’n geslaagde SACLA II gehou, ook in Pretoria, dié keer met die volle samewerking van alle kerke – ook die Afrikaanse kerke – waartydens duisende afgevaardigdes hulle verbintenis tot die evangelie* bely het, en hulle gewillig verklaar het om die “reuse” (ongeloof, armoede, misdaad, geweld, MIV en vigs) wat die land en sy mense bedreig, te bestry. As oorkoepelende organisasie van leiers van die meeste kerke in die land, het SACLA sy werk daarna voortgesit.

 

Sidebar