SOWETO-OPSTANDE

SOWETO-OPSTANDE het in 1976 in dié swart woongebied vlakby Johannesburg plaasgevind. Dit was, naas die Sharpeville-opstande van 1960, een van die belangrikste reële maar ook simboliese opwellings van die swart bewussynsbeweging* in Suid-Afrika. Uiteindelik het hierdie opwellings hulle kulminasie in die onderhandelings vanaf 1990 en die oorgang van die “ou” na die “nuwe” Suid-Afrika in 1994 gevind. Die aanleidende oorsaak van die Soweto-opstande was die volhardende standpunt van die destydse adjunk-minister van swart onderwys, dr AP Treurnicht*, dat swart leerlinge verpligtend Afrikaans* as skoolvak moes neem. Dit het tot stakings, demonstrasies en uiteindelik geweld op en vanaf 16 Junie 1976 gelei. Die bekende foto van een van die skoolkinders, Hector Petersen, wat deur die polisie doodgeskiet is, het dwarsoor die wêreld opslae gemaak. Later jare is ’n gedenkteken ter ere van Petersen in Soweto opgerig. In die nuwe bedeling in Suid-Afrika is 16 Junie ’n openbare vakansiedag, “Jeugdag”.

 

Sidebar