SPENER, PHILIP JAKOB

SPENER, PHILIP JAKOB (1635–1705) is saam met August Francke* een van die bekendste piëtiste of vroomheidsteoloë in die Duitse konteks van die 18de eeu. Hierdie beweging van Duitse piëtisme moet in samehang met die Engelse puritanisme* en die Nederlandse gereformeerde* piëtisme* of Nadere Reformasie* uit dieselfde era beskou word. Spener het teologie* in Straatsburg studeer, waar hy ook ’n prediker was en in 1664 sy doktorsgraad verwerf het. In Frankfurt tree hy tussen 1666 en 1685 na vore as die leier van die piëtistiese beweging. Daar het hy talryke hervormings deurgevoer en in 1670 ’n konventikel of kleingroep bekend as collegia pietatis gevorm. In sy publikasie Pia Desideria sit hy die wese van sy vroomheidsteologie uiteen. Hy oefen op die langer termyn ’n groot invloed uit op die herlewing van Duitse Lutheranisme*. (Kyk ook: Gevoelsgodsdiens.)

 

Sidebar