SPIJKER, JOHANNES

SPIJKER, JOHANNES (1792–1865) het in Amsterdam en aan die Universiteit van Utrecht gestudeer. Hy word in 1816 deur die provinsiale kerkbestuur van Noord-Brabant gelegitimiteer en vir diens in die Kaapse Kerk* georden. Hier dien hy agtereenvolgens in die gemeentes* van Swellendam (1817–1823), Hottentotsholland in Somerset-Wes (1823–1829) asook Swartland by Malmesbury (1829–1834) en as derde leraar* van die gemeente Kaapstad (1834–1864). In 1829 is Spijker ook tot skriba van die Kaapse sinode* verkies en in 1834 as moderator*.

Reeds in 1829 het Spijker die gesamentlike nagmaal*viering bevraagteken wat meer as 50 jaar later op afsonderlike kerke vir die verskillende bevolkingsgroepe sou uitloop.

Vanweë Spijker se belangstelling in die onderwys en opvoeding van die jeug, raak hy in 1831 betrokke by die herstigting van die Kaapse onderwysinrigting Tot nut van ’t Algemeen*. Hy het saam met drr A Faure* en W Robertson* die toestand van die skole in die buitedistrikte ondersoek en beywer hom vir die opleiding van geskikte onderwysers in die Kaap. Hy word in 1847 lid van die eerste kommissie vir opvoeding en onderwys van die Kaapse sinode en was in 1849 ook betrokke by die oprigting van ’n kerklike inrigting vir die opleiding van onderwysers vir die buitedistrikte. Hy lewer bydraes tot die Nederduitsch Zuid-Afrikaansche Tijdschrift waarvan Faure redakteur was, asook in verskeie ander publikasies oor onderwysaangeleenthede.

Vir verdere lees: HA Heyns 1950–1951. “Kerklike werksaamhede van Abraham Faure” in: Argiefjaarboek vir Suid-Afrika. Geskiedenis, 1950–1951. Pretoria: Staatsdrukker.

 

Sidebar