SPIRITISME

SPIRITISME is die oortuiging dat ons kontak kan hê met die geesteswêreld. Ons weet almal van hekse, towenaars, mense wat heldersiende is of met die helm gebore is, mediums, sieners, fortuinvertellers, waarsêers, sangomas. Uit die Bybel* is die bekendste voorbeeld die heks (die “dodebesweerster”) van Endor (1 Sam 28:7 en volgende verse). Uit die Griekse mitologie* weet ons van Ulysses, en in die moderne tyd van Emanuel Swedenborg (1772). Maar dit is die Fox-susters van Noord-Amerika wat die eerste keer aanspraak gemaak het op grootskaalse kontak met die geesteswêreld.

Enersyds moet ’n mens waarskynlik aanvaar dat die meeste van hierdie aansprake op bedrog berus, maar andersyds is daar skynbaar tog getuienis van mense wat sg bonatuurlike kennis het. Uit die geskiedenis is voorbeelde bekend van mense wat selfs op ’n afstand merkwaardig akkurate diagnoses van pasiënte kon maak. Daar is egter geen manier om die boodskappe te kontroleer wat mediums voorgee dat hulle van gestorwenes ontvang nie. Al sou daar werklik sulke kommunikasie wees, is die vraag nog steeds hoe die mediums self sou kon kontroleer dat dit nie ’n leuengees is met wie hulle kommunikeer nie. Die Ou Testament* is negatief oor hierdie soort kommunikasie – al word dit nie ontken nie (Deut 18:10 en volgende verse; Jes 8:19), en nêrens in die Bybel kry ons ’n positiewe siening hieroor nie.

 

Sidebar