SPIRITUALISME

SPIRITUALISME. Die agtergrond van spiritualisme is dat die werklikheid uit twee dele bestaan: die gees en geestelike (onsigbare) dinge, en die fisiese of materiële dinge. Spiritualisme lê die nadruk op die geestelike/onsigbare dinge, en ag die fisiese/materiële dinge minder belangrik. Ons ken dit in minstens die volgende twee vorms.

Die Christian Science is die bekendste vorm. Hulle ontken selfs net die bestaan van die fisiese dinge. Hulle begin by God. Hy is in alles en Self alles. Daarom kan daar niks bestaan wat anders is as Hy nie, en dit beteken niks wat fisies/materieel is, bestaan werklik nie. Maar dan kan defekte aan fisiese dinge ook nie bestaan nie. Alle siekte*, sonde*, lyding* is dus bloot versinsels. Om iemand te genees, is om hom/haar te oortuig dat hy/sy nie regtig siek is nie. Daarom moet mense ook ontmoedig word om met ander simpatie te hê. Dit bevestig hulle verkeerde oortuigings dat daar iets met hulle verkeerd is.

Die tweede vorm van spiritualisme verdeel ’n mens se lewe in twee: jou gewone lewe, en jou geestelike lewe of verhouding met God. Net hierdie geestelike dinge is dan belangrik. Van hierdie mense word soms gesê: “They are so heavenly minded that they are of no earthly use.”

 

Sidebar