SPIRITUALITEIT

SPIRITUALITEIT. In gereformeerde* kring is die term “vroomheid” dikwels in die verlede gebruik as verwys is na wat ons vandag “spiritualiteit” noem. Beide terme wek egter agterdog as dit sinoniem beskou word met wêreldvreemdheid, indiwidualisme, sentimentaliteit, en ’n skeiding van die “geestelike” en die “stoflike”.

’n Gereformeerde spiritualiteit omsluit altyd die hele Christelike lewe: gebed* én dade, die binnekamer én die markplein. Dit sluit ’n verbintenis tot God én mense in. Heelwat skrywers verwys na Miga 6:8 as hulle pleit vir ’n gebalanseerde spiritualiteit wat ’n diepgaande verhouding met God, aanspreeklike en helende verhoudings met medemense, en ’n soeke na geregtigheid* in alle samelewingsfere met mekaar integreer. Calvyn* het so ’n geïntegreerde spiritualiteit beklemtoon.

Spiritualiteit verwys na ons ervaring met God: waar en hoe ons die teenwoordigheid van God beleef. Dale Cannon gebruik ses kategorieë om verskillende maniere te beskryf waarop mense hulle geloof ervaar: ’n meditatiewe spiritualiteit, ’n daadgerigte spiritualiteit, ’n spiritualiteit van toewyding, ’n sakramentele spiritualiteit, ’n spiritualiteit van geestelike bemagtiging (klem op die bonatuurlike), en ’n rasionele spiritualiteit (kennis en insig). Plaaslike gemeentes* kan baat vind by ’n verstaan van hierdie kategorieë vir die goeie bestuur van en bediening aan diverse lidmate. (Kyk ook: Spiritualiteitsmodelle.)

Vir verdere lees: DW Cannon 1994. “Different Ways of Christian Prayer, Different Ways of being Christian” in: Mid-stream 33(3). John de Gruchy 1986. Theology and Ministry in Context and Crisis. Grand Rapids: William B Eerdmans. HL Rice 1991 Reformed spirituality. Louisville: Westminster/John Knox Press.

 

Sidebar