SPIRITUALITEITSMODELLE

SPIRITUALITEITSMODELLE. Ben du Toit* onderskei ses “spiritualiteitsmodelle” (dit wil sê, maniere waarop mense hulle geloof ervaar) wat in ’n mate verskil van Dale Cannon s’n (Kyk by: Spiritualiteit). Uiteraard kom elemente van meer as een vorm van spiritualiteit by die meeste Christene* voor. Min beleef hulle godsdiens nét volgens die een of ander “model”. ’n “Gereformeerde*” spiritualiteit sal elemente van meer as een van hierdie spiritualiteitsmodelle bevat met beklemtoning van Skrif* en belydenis*. Du Toit verduidelik sy ses spiritualiteitsmodelle soos volg:

Evangeliese spiritualiteit (of evangelikaliese* spiritualiteit). Hierdie Christene maak groot erns met die Bybel* as die onfeilbare Woord* van God en met lewensheiliging (Kyk by: Heiliging). Hulle neig in hulle lewensbeskouing na die wettiese. Vir hulle gaan dit baie oor die lewe ná die dood*. Hier is ons slegs pelgrims, en gelowiges moet hulle veral uitstrek na “die dinge wat daarbo is”. In die geskiedenis van die kerk is die evangeliese spiritualiteit gevestig deur mense soos Andrew Murray*2 en Billy Graham*.

Charismatiese* spiritualiteit. Vir Christene wat hulle veral hier tuis voel, is die onmiddellike werk van die Heilige Gees* belangrik. Sang tydens dienste vir die skep van ’n atmosfeer waarin die werk van die Gees van God beleef word, maak ’n groot deel uit van die belewing van hierdie spiritualiteit. Die “second blessing”*, grootdoop (Kyk by: Doop) en charismatiese leiers (Kyk by: Charisma) is meermale kenmerkend. Jimmy Swaggart en Ray McCaulley* is sulke leiers.

Sakramentele spiritualiteit. Hier gaan dit meer oor die godsdienstige handeling as oor die woorde. Die saamdoen van godsdienstige rituele* staan voorop. Hierdie Christene het ’n besef van die sakramentele aard van die lewe en wil hulle hele lewe daarvolgens orden. Tot dié soort spiritualiteit behoort veral die Katolieke*, Anglikaanse* en Oosters-Ortodokse kerke.

Aktivistiese spiritualiteit. Hierdie Christene is daadwerklik betrokke by die nood van mense in die een of ander vorm en veral by die bestryding van sosiale onreg. Hulle beywer hulle vir sake wat hulle beskou as die ononderhandelbare opdrag van die evangelie*. Hulle beskou hulleself as die sosiale gewete van die kerk* en voel dat die waarheid* en integriteit* van die kerk staan of val by die saak/sake waaroor dit vir hulle gaan. Bekende name in hierdie verband is dié van Dietrich Bonhoeffer*, Martin Luther King* en Allan Boesak*.

Intellektuele spiritualiteit. Vir mense wat hulle veral tot hierdie soort spiritualiteit aangetrokke voel, gaan dit oor die intellektuele integriteit van die kerk en van die Christelike geloof* waarvoor hulle in die denkende wêreld as apologete optree. Daar is by hulle ’n kritiese gees wat soms gepaard gaan met ’n mate van sinisme. Hulle gespreksgenote is in die wetenskaplike wêreld. Wolfhart Pannenberg* en Wentzel van Huyssteen* is bekende eksponente van hierdie soort spiritualiteit.

Asketiese spiritualiteit (of kontemplatiewe spiritualiteit). Hier lê die klem op ’n nadenkende godsdiensbenadering. Hierdie Christene peins oor die geloof en die belewing daarvan, en stilte, afsondering, eenvoud, gebed en meditasie* neem ’n belangrike plek in. Die Taizé-gemeenskap* in Frankryk is ’n hedendaagse weergawe van dié eeue oue spiritualiteit van die bergkloosters. Henry Nouwen* het hierdie soort spiritualiteit voorgestaan en uitgeleef.

Vir verdere lees: Ben du Toit 2000. God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Bloemfontein: CLF-uitgewers.

 

Sidebar