SPORT EN GODSDIENS

SPORT EN GODSDIENS. “Sport” word deur die HAT (2015) saaklik gedefinieer as: “1. Liggaamsbeweging/liggaamsoefening as ontspanning. 2. Spel waarby liggaamsbeweging /liggaamsoefening te pas kom; fisieke aktiwiteit waarin mense met mekaar meeding”. Aangesien die Christelike etiek* die gelowige* se verantwoordelikheid teenoor sy liggaam (as tempel van God) beklemtoon, spreek dit vanself dat ’n Christen* geredelik aan sport sal deelneem om “deur liggaamsbeweging/liggaamsoefening” sy/haar liggaam gesond/fiks te hou. Mens sana in corpore sano (’n gesonde siel/gees in ’n gesonde liggaam) lui die ou Latynse spreekwoord.

Daar is twee soorte sportbetrokkenheid: dié van die deelnemers en dié van die toeskouers. In albei gevalle kan sportbetrokkenheid oordryf word, want sport is nie die ganse lewe nie. Selfs professionele sportlui vir wie hulle sportbeoefening hulle beroep is, sal in gedagte moet hou dat ook nie ’n mens se beroep jou hele bestaan is nie en dat ’n mens moet strewe na ’n gesonde balans. Vir ’n Christen sal sy/haar sportbeoefening vanselfsprekend in die teken van sy/haar Christenskap staan, en hy of sy sal goed doen om te onthou: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10:31). Sport mag nooit ’n mens se afgod word nie – ’n stelling wat in ’n land soos Suid-Afrika met sy groot sportbelangstelling, telkens herhaal moet word. Sport kan ’n brugbouer tussen gemeenskappe en ’n werktuig tot versoening* wees. Een van die klassiekgeworde voorbeelde hiervan is die destydse pres Nelson Mandela* se optrede in ’n nommer 6-Springboktrui by die rugby-wêreldbekereindstryd in 1995. Dit gebeur soms dat nasies wat mekaar origens moeilik verdra, vind dat daar op die sportveld bande is wat hulle bind.

Groot sportbyeenkomste, soos die Olimpiese Spele, het al tradisioneel die plek geword waar evangelisasie*-aksies geloods word: groepe jongmense van oor die wêreld span saam om die evangelie* op verskillende maniere aan die skares mense wat daar byeenkom, oor te dra. Sport bied ook aan Christen-sportmanne en -vroue die unieke geleentheid om deur hulle optrede op en van die veld af, ’n getuienis* te lewer. So was daar bv Suid-Afrikaanse krieketspelers soos Graham, Peter* en Shaun Pollock en die gholfheld Gary Player* van wie almal geweet het dat hulle Christene is. Sportmense het ook al vanweë geloofsoortuigings geweier om op Sondae aan wedstryde deel te neem – iets wat in die professionele era beteken dat jy daarmee in werklikheid jou sportloopbaan kortknip. ’n Gemakliker Sondagbeskouing bring mee dat dit nie meer dikwels gebeur nie. Etlike predikante* was in die verlede Springbokrugbyspelers – Anton Stegman*, George Daneel*, Ben-Piet van Zyl en Darius Botha tel onder hulle – en Dawie de Villiers* was Springbokkaptein toe hy tokkelok en later predikant was.

 

Sidebar