SPREUKE VAN SALOMO (BYBELBOEK)

SPREUKE VAN SALOMO (BYBELBOEK) bevat in sy Hebreeuse* formaat 31 hoofstukke. Die openingswoorde skryf die versameling spreuke aan Salomo* toe. Navorsing het egter getoon dat dit hier gaan oor ’n versameling van spreuke wat oor eeue heen ontwikkel het en wat deel was van die internasionale wysheid*.

Samestelling van Spreuke: Die boek is opgebou uit verskillende dele wat óf uit ’n kronologiese perspektief, óf na gelang van literatuursoort geplaas kan word. Kronologies beskou, vorm hoofstuk 1–9 en 31 deel van die laaste toevoeging tot die versameling. Hoofstuk 10–30 word beskou as ouer stam- en internasionale wysheid. Geleerdes huldig uiteenlopende sienings oor die redes vir hierdie samestelling. McKane oordeel dat dit hier gaan oor ’n later “Jahwe*-sering” van die ouer spreuke wat van internasionale oorsprong was. In hierdie verband maak Camp gewag van ’n herkontekstualisering van die versameling in die na-ballingskap*-periode. Sy kom tot hierdie gevolgtrekking op grond van haar siening dat die spreuke wesenlik as ’n formele reaksie op bepaalde probleme beskou moet word. Fox sien hierdie boek as ’n opvoedingshandboek waarin die “onderwyser” (die pa) sy “leerder” (die seun) onderrig. Ook hy aanvaar dat die inleiding en die epiloog later toevoegings is, en wel in die Hellenistiese* era.

Internasionale wysheid: Geleerdes huldig die mening dat die ouer dele van Spreuke van internasionale oorsprong is. Hierdie perspektief is enersyds gebou op die literêre en inhoudelike ooreenkomste tussen van die spreuke en Egiptiese en ander gesegdes. Hier is veral 22:17–24:22 se ooreenkomste met die Instruksie van Amenope uit Egipte* opvallend. Andersyds hou die perspektief verband met die rol van die wysheid in Spreuke.

Die rol van wysheid: Hokmâ (wysheid) in Spreuke word verskillend geïnterpreteer: as personifikasie, as hipostase, letterlik, as simbool en as literêre figuur. Albright het ’n ooreenkoms gevind tussen wysheid en bepaalde Semitiese* godinne. Boström beskou die wysheid van Spr 1–9 as doelbewuste verplasing van hierdie godinne. Ringgren het die hipostase-teorie ontwerp, waarvolgens wysheid kwasi-personifikasie van bepaalde goddelike kenmerke was. Fox is van oordeel dat die wysheid en ook dwaasheidsfigure in Spreuke as letterlike vroue geneem moet word. Die Septuaginta* interpreteer die figuur van die vreemde vrou as ’n simbool vir vreemde wysheid, naamlik die Hellenisme* van die dag. Camp het met ’n nuwe perspektief vorendag gekom waarvolgens wysheid as literêre figuur metafories verstaan moet word. Die onderliggende teoretiese uitgangspunt is dat die versameling wat die boek Spreuke opmaak, nie uit ’n willekeurige sameflansing van gesegdes bestaan nie, maar ’n doelbewuste geordende geheel vorm. Die struktuur van dit wat die wysheid en dwaasheid te sê het, is dus belangrik. Camp stel voor dat hokmâ gepersonifieerde wysheid is wat as godsdienstige simbool beskou moet word. Hierdie godsdienstige simbool het dan in die na-ballingskaptydvak as literêre figuur gehelp om bepaalde sosiale en godsdienstige probleme op te los.

Struktuur: Aangesien Spreuke nie uitsluitlik teoretiese nadenke omvat nie, maar op die praktyk gerig is, speel opvoeding deurgaans ’n rol. Murphy vind twaalf instruksies in die eerste 9 hoofstukke en 8 verdere versamelings van wysheidsgesegdes in die res van die boek.

Vir verdere lees: MV Fox 2000. Proverbs. Anchor Bible. New York: Doubleday.

 

Sidebar