SPURGEON, CHARLES HADDON

SPURGEON, CHARLES HADDON (1834–1892) was een van die suksesvolste gemeente*leraars* in die Westerse kerk* sedert die Reformasie*. Gebore uit ’n geslag Independente of Kongregasionalistiese* puriteine*, word hy, ná sy bekering* in 1850, ’n Calvinistiese* Baptis*. Van Oktober 1851 dien hy as deeltydse leraar van ’n klein gemeente buite Cambridge, waar sy werk so geseën word, dat hy in 1854 beroep word na ’n gemeente in Londen. Spoedig beleef ook hierdie gemeente ’n besondere geestelike opwekking en ’n toestroming van bekeerlinge. In 1856 trou hy met Susannah Thompson.

Hy verkondig die evangelie* met groot vrug in “sekulêre” plekke, soos die Surrey Gardens Music Hall, met opkomste van tot 14 000 uit alle stande van die samelewing. Hy bereik miljoene ander met 2 000 gepubliseerde preke, waarvan die meeste in verskeie tale vertaal is, van Nederlands tot Russies. In 1861 word die Metropolitan Tabernacle in gebruik geneem, waar die gemeente aangroei tot 6 000. Mettertyd stig hy die bekende Stockwell-weeshuise, sowel as ’n netwerk van verenigings om armoede te verlig, waar kerkverband nooit ’n kwalifikasie vir hulp word nie. Sy ywer vir ’n Skrif*gebonde teologiese* opleiding, lei tot die stigting van die Pastors’ College, waar ’n paar honderd van sy bekeerlinge, ook sy eie twee seuns, opgelei is.

Spurgeon se prediking* het berus op die Skriftuurlike band tussen verkiesing, versoening* en bekering, gewerk deur die Heilige Gees*. Met sy klokhelder stem en fenomenale geheue het hy hom daarop ingestel om “gewone mense” te bereik. W Robertson Nicoll het die kwaliteit van sy preke baie hoog aangeslaan en DL Moody* was nog meer beïndruk met sy gebede. Hyself het die sukses van sy bediening toegeskryf aan die gebede van sy gemeente, sy Calvinistiese Skrifuitleg, en die soewereine genade*werking van die Heilige Gees.

Vir verdere lees: CH Spurgeon, S Spurgeon, J Harrald 1967, 1973. CH Spurgeon Autobiography, deel 1 en 2. Edinburgh: Banner of Truth Trust. 1967. Lectures to my Students. H Thielicke 1964. Encounter with Spurgeon. Philadelphia: Fortress Press. Iain Murray 1966: The Forgotten Spurgeon. Londen: Banner of Truth Trust.

 

Sidebar