ST STEPHEN’S, KERK VAN VRYGEMAAKTE SLAWE

ST STEPHEN’S, KERK VAN VRYGEMAAKTE SLAWE. “Uiteindelik vry!” kon die slawe* aan die Kaap op 1 Desember 1838 uitroep. Op ’n wonderbaarlike manier sou God ’n paar jaar later die eerste teatergebou in Suid-Afrika gebruik om ook geestelike vryheid aan duisende vrygemaakte slawe te gee.

Sir George Yonge, indertyd Britse goewerneur aan die Kaap, het in 1799 ’n verterende begeerte gehad om ’n teater op te rig. Dié gebou, aanvanklik bekend as die African Theatre, is op 17 November 1801 op die destydse Boereplein (later Riebeeckplein) geopen. Onder die Bataafse bewind is daar na die teater as die Afrikaansche Schouwburg of Komediehuis verwys. Die gewildheid van die opvoerings het mettertyd getaan en sedeloosheid het in en om die teater toegeneem. Dit het in 1836 tot die sluiting daarvan deur die Britse owerheid gelei. Intussen het ds GW Stegmann* van die Lutherse Kerk* en dr J Adamson van die Presbiteriaanse* moedergemeente met hulle werk onder die slawe begin. Die eerste diens is paslikerwys op 1 Desember 1838, die slawe se Vryheidsdag, in die nabygeleë St Andrew’s-kerk gehou. In 1839 is die voormalige Komediehuis vir kerk- en skooldoeleindes aangekoop. Op 30 April 1843 het die amptelike inwyding van dié kerkgebou plaasgevind. Die naam van die nuwe gemeente sou “St Stephen’s” wees, genoem na Stefanus*, die eerste Christenmartelaar*. Op 15 November 1857 is die gemeente by die NG Kerk* ingelyf. Mettertyd, met die totstandkoming van die NG Sendingkerk*, was daar druk dat die St Stephen’s-gemeente ook die NG Kerk moes verlaat, maar die Kerk van Vrygemaakte Slawe het geweier om onder hierdie idee van kerklike rasseskeiding te buig en het ’n gemeente* van die NG Kerk gebly. Later het die Wet op Groepsgebiede meegebring dat gemeentelede, baie wat voorheen in Distrik Ses gewoon het, oor die Skiereiland verstrooi geraak het, maar ’n groot aantal het aan hulle Kaapstadse gemeente getrou gebly. Ook in die jare van apartheid* het St Stephen’s-gemeente die getuienis bly lewer dat die kerk* in wese oop moet wees. Meer onlangs is ’n groot restourasiepoging op tou gesit om die kerkgebou weer in vorige glorie te herstel.

 

Sidebar