STAAT

STAAT. Daar bestaan drie hoofstrome van staats- of regeringsvorms.

Eerstens: ’n Eenmansregering (outokrasie/monargie). Dikwels ontaard so ’n regering in ’n diktatuur. Die Ou-Testamentiese* koningskap met sy teokrasie* is te uniek om dit hier tuis te bring.

Tweedens is daar verskillende (oorvleuelende) vorms van minderheidsregering wat wissel van ’n aristokrasie (regering deur adellikes, belangrikes of wyses soos by Plato), tot ’n oligargie (regering deur veral adellikes); van ’n timokrasie (regering deur persone van aansien, rykdom en eer) tot ’n plutokrasie (regering deur veral rykes).

Derdens is daar twee vorms van meerderheidsregering (poliargie), naamlik ’n oglokrasie, waar die massa direk regeer (populisme), en ’n demokrasie, waar “die volk regeer”: die volk wys deur middel van periodieke vrye en regverdige verkiesings ’n regering aan. ’n Sterk opposisie speel hier ’n onmisbare waghondrol. Daar moet onderskei word tussen ’n liberale demokrasie, waar “die wenner alles vat” (die Westminister-model), en ’n plurale demokrasie, waar mindersheidsbehoeftes en -regte verreken word.

Dit is opvallend dat Calvyn* meer klem lê op die manier waarop regeer word (die vraag na legitimiteit) as op die vorm van regering (die vraag na legaliteit). Daar word vandag algemeen aanvaar dat ’n demokrasie*, met sy verdeling van wetgewende, regsplegende en uitvoerende gesag, die beste vorm van regering is – dit het trouens sy wortels in die presbiteriale kerkregeringstelsel*. Die taak van ’n Christen* en die kerk* behoort veral daarin te bestaan om soveel moontlik van die beginsels van die koninkryk* van God (regverdigheid, vryheid, billikheid, gelykheid) in die grondwet en in die samelewing in te bou – selfs al bereik hierdie beginsels nie in hierdie bedeling hulle volle Bybelse* betekenis nie. Die kerk sal vir die regering voorbidding doen, maar die regering ook oproep om verantwoordelik te regeer, wetende dat uiteindelik alle gesag van God kom en alle gesagsdraers werktuie in sy hand is.

 

Sidebar